My sogenaamde resensies

Ek lees iewers op ‘n lesersgroep op Facebook dat almal welkom is om op die groep te kom vertel van boeke wat hulle lees, resensies skryf, ens. Net om ‘n dag later op dieselfde groep te sien hoe iemand galbraak oor almal wat deesdae ‘sogenaamde’ resensies skryf, wat eintlik niks meer is as advertensie nie, veral omdat die mense die boeke verniet kry en dan maar mooi dinge daaroor moet skryf, ens. ‘n Lang relaas volg deur die beter resensieskrywers, beter lesers, beter letterkundiges, beter … , ag man, deur hulle wat beslis meer en beter weet van boeke as ek.

Dalk verwys hulle glad nie na my nie, maar ek dink ek val ook onder die groep sogenaamde resensente. Want dit wat ek skryf, is alles behalwe resensies. Persoonlik voel ek daar is meer as genoeg resensies deur ‘behoorlike’ resensente geskryf, beskikbaar op die internet.

Toe ek sowat tien jaar gelede begin skryf het op my blog, het ek ook oor boeke wat ek lees, geskryf. O, die meeste van die tyd was ek heeltemal agter die tyd en wanneer ek ‘n boek lees en daaroor skryf, was dit nie meer die boek van die dag nie, maar ek het glad nie omgegee nie.

My boekbesprekings is gewoonlik oor dit wat die boek vir my as persoon beteken het, dit is gewoonlik iets goeds en ek probeer om nie negatief te wees nie. Dit gaan tog nie vir my lekker wees as mense lelike goed van my boeke skryf op hulle blaaie nie, hoekom sal ek dit doen? Juis daarom sal ek dan eerder niks oor ‘n boek skryf as ek nie van hom hou nie.

Ja, ek kry tans baie boeke present by CUM, maar selfs al kry ek dit present, probeer ek steeds om getrou aan myself en my manier van skryf te bly. Hou ek nie van ‘n boek nie, skryf ek nie oor hom nie. So maklik soos dit.

Groete

Toortsie

Vir nog boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

15 thoughts on “My sogenaamde resensies

  1. Ek het ook daardie aanmerking gesien en gewonder of “gewone” lesers dan nie veronderstel is om ‘n opninie te gee nie. Ek bespreek nie sommer die boeke wat ek lees nie, want daar is te veel beterweters, maar ek behou die reg voor om my geld te spandeer waar ek wil en dis wat tel. Maar daar steek wel waarheid in dat sommige mense verplig voel om ‘n goeie resensie te gee omdat hulle die boeke gratis kry. Gelukkig ken ons jou beter as dit.

    Liked by 1 person

    1. Baie van die groepe is so vol beterweters. Ek het bv lankal van die Bantinggroepe onttrek omdat die piranhas daar openlik kyk wie hulle kan verskeur en die Bantingpolisie is erg! Baie erger as om Siberië se strafkamp toe gestuur te word! Lyk my die boekepolisie kan ook erg wees as hulle die dag wil. 😳 Genadiglik nie aldag so nie.

      Liked by 1 person

  2. Ek geniet juis die amateurs se opinies. Hulle kom soms met boeke vorendag wat ek op geen ander manier van sou hoor nie. Ek lees dan juis blogs om ander mense se opinies te hoor. Ek hoef nie saam te stem nie, en ek hoef nie te lees nie.

    Liked by 1 person

  3. Ons moes beslis dieselfde kommentare raakgelees het en ek moet erken dat ek dit net nie mooi verwerk kry nie. Ek het my entoesiasme vir resensies, of te wel lesersindrukke, tot ‘n groot mate verloor.

    Liked by 2 people

      1. Ek sal nie ophou om leserskommentare op my blog te skryf nie. Ek huiwer net om dit te plak op so ‘n groep. En dan gee ons hulle eintlik presies wat hulle wil hê, as jy mooi daaroor dink.

        Like

      2. Una, jy doen my hart sommer baie goed. Ek is deur ‘n bitter emosionele twee weke, en dit gaan aanpassing kos om voort te gaan, want die formaat verander nou na bloot pdf’s. Ek lees nooit elektronies nie, sal maar moet kyk wat broei uit!

        Like

Gesels saam, asseblief!