Vereensaming

Vereensaming is iets wat enige van ons op enige plek kan oorkom, dit het ook al vir my oorgekom. Dis angswekkend. Soms wonder ek of daardie vereensaming nie meer in my kop gebeur het as wat dit werklik gebeur het nie. 😳

Nou die dag kom kuier ‘n dierbare vriend van ons daar. Hy vertel dat hy totaal vereensaam. Ek lees ook op ‘n ander blog hoe iemand se vriendinne al hoe minder raak en sy verlang na die tye wat hulle saam kon kuier.

Die lewe gebeur. Dis nie noodwendig dat daar iets negatiefs gebeur het wat veroorsaak dat jy jou vriende minder sien nie. Ons is besig met ons werk, ons kinders, ons sport, ons watookal. Mense met wie ons nou baie te doen kry, se lewe kry dalk ‘n ander loop en sonder dat jy dit besef, sien ons mekaar net nie meer so gereeld nie. Ons vriende skei dalk of gaan dood, of gaan woon op ‘n ander dorp. Jy trek dalk self na ‘n nuwe buurt of gemeenskap.

Toe ek dorp toe getrek het, het ek doelbewus probeer om weer ‘n vriendekring te bou. Dit werp vrugte af. Die gevaar bestaan dat ek weer gemaklik raak in hierdie vriendekringetjie en nie meer uitkyk vir nog vriende nie.

Die ander gevaar bestaan ook dat ek só uitkyk vir nuwe vriende, dat ek nooit die oulike vriendinne wat ek reeds raakgeloop het, leer ken nie of selfs afskeep.

Ons geaardhede verskil en vir party mense is dit dalk makliker om maats te maak as vir ander. Laat ons egter waak teen vereensaming. Daar is soveel eensame mense daar buite wat smag na geselskap. Kom ons hou ons oë wawyd oop en omarm nuwe vriende wat oor ons pad kom.

Toortsie

17 thoughts on “Vereensaming

  1. Vereensaming is nie lekker nie. Ek maak nie maklik vriende nie en as ek maak gebeur dit gereeld dat ek alles gee en word teleurgestel omdat ek eintlik net gebruik word as daar nood is. Dit daar gelaat. Ek sit vandag in my skryfgroep. Dis almal mense oor die sewentig. Drie is enkel dames(met my saam 4) Twee is getroude mans en een getroude vrou. Hul bespreek die nadeel om in n tehuis te gaan bly. Alger vertel dit voel vir hul soos n tronk. Nie een wil tussen daardie inwoners bly nie. Ek het maar stil gebly omdat ek eintlik graag in so n plek sou wou bly. Ongelukig is ek nie in die vermoe nie. Om tussen mense in n aftree oord te bly maak dat mens nie regtig kan vereensaam nie. Mense verskil maar.

    Liked by 2 people

    1. Ek sê altyd oor ‘n ouetehuis praat ek uit twee monde.
      ‘n Mens wil mos maar graag in jou eie huis oud word en doodgaan en skop teen due gedagte om na so ‘n plek te gaan.
      Wanneer hulle egter wel gaan, is hulle só gelukkig daar, ek sien dit keer op keer. Hulle is tussen hulle vriende, is veilig, en binne perke kan hulle redelik doen wat hulle graag wil.

      Liked by 1 person

      1. In my geval wil ek nou grag regtig gevestig raak. Daar is ongelukkig geen geleentheid meer vir my om iets te bekom nie. My seun sorg vir my deur my verniet te laat bly maar dit maak dat ek eintlik vereensaam. Ek moet myself dwing om uit te gaan en tussen mense te kom. In n tehuis is ouens meer aangewys op mekaar dan om so op jou eie te bly.

        Liked by 1 person

      2. Ek het dit ook waargeneem met my skoonma, sy het by ons gebly, maar ek en my man was heeldag uithuisig, sy het vereensaam. Sy was baie vies toe ons sê sy moet oue tehuis toe gaan, maar binne twee weke het sy self gesê, as sy geweet het dis so lekker, het sy lankal gegaan.

        Like

  2. Ek sien my vriende as kosbare pêrels, sommige sien ek nie gereeld nie maar dit verander niks aan die diepte van ons vriendskap nie. Ek maak baie maklik vriende en dit is een van die grootste voorregte waaraan ek kan dink. Hulle het al blydskappe saam met my deurgemaak en dis ook hulle wat daardie sms of whatsapp boodskap stuur wanneer ek dit die nodigste het. Ek hoop hulle weet hoe lief ek hulle almal het.

    Liked by 2 people

  3. Hieroor kan ek baie sê…want ek vereensaam deur die keuse wat ek gemaak het jare gelede. Ek het ‘n wye vriendekring gehad, mense kon enige tyd by my inval en kuier. Ons sou sommer saam eet en kuier tot laat. Maar my keuse het veroorsaak dat mense verskonings soek om nie net meer in te val nie. En ek gaan stadig maar seker dood.

    Liked by 1 person

  4. My beste tyd was tussen die mielielande… ons was ‘n groep mense wat deur jare sterk bande gebou het. Tot vandag het ons nog kontak maar het versprei… dus sien ons mekaar min. Ek is ook nie lus vir ‘n ouetehuis nie… dan kan ek nie meer pajamadag hou nie 🤔

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!