Amper daar!

5 weke is verby! Ek is in week 6! 🙂 Nou is dit daggies oor, nie meer weke nie. Soos soveel ander vroue voor my het ek dit ook sowaar gemaak. 🙂

In week ses moet ek myself vir week 7 gereed kry, waar vroue gewoonlik terugkeer werk toe en teen die volle werkstempo moet werk. Die liggaam moet dus sterk wees. Ons mag die huistake omtrent alles self verrig en 3 tot 4 maal hierdie week tot 40 minute per keer stap. Ek mag motor bestuur vir langer afstande.

Die kettings van die huisarres is besig om los te gaan!

Dis interessant dat die huisarres nooit so erg was dat ek wou mal word nie, ek het soveel gehad waarmee ek my ‘soet’ kon besighou. Om die waarheid te sê, ek het nie by alles uitgekom nie! Verder het ek mos ‘n lieflike uitsig uit my huis en het nooit regtig vasgevang gevoel nie.

Behalwe die laaste week. Toe het ek ‘n benoudheidjie begin voel. Kajuitkoors.

Gelukkig kon ek laas week al self ‘n draaitjie in die dorp ry as dit nodig sou wees en ek kon gaan stap. Meestal het ek maar hier op die gelykpad agter ons huis heen en weer gestap. Tog vra my siel vir meer. Hy vra vir uitkom. My siel wil die see sien.

Gister kon ons toe ry en sommer net in die kar sit en die branders sit en kyk. Doodstil, terwyl strome lewende waters deur my binneste gevloei het en my siel skoongewas het, terwyl ek sommer met my Here sit en gesels het. Wat ‘n voorreg!

Nou ja, laat ons hierdie laaste week met durf aanpak. Steeds nog versigtig om myself nie onnodig te druk nie, steeds met rus wanneer my liggaam daarvoor vra, maar beslis met ‘n bietjie meer vryheid. Ek kan weekliks, nou al daagliks, voel hoe ek sterker word.

Mooi loop

Toortsie

11 thoughts on “Amper daar!

Gesels saam, asseblief!