Tweejariges

Medicine mommy se bloginskrywing laat my sommer vandag ver terugdink, toe my eie kinders tweejariges was. Soos sy sê, hulle hou jou nederig. Jy kan ook nie anders as dat jou lewe verander danksy hulle nie. Alles verander. Ek sal nooit vergeet hoe verbaas ek en ‘n vriendin was oor een van ons ander vriendinne wat ons raakgeloop het ná baie jare nie, jy kon haar steeds deur ‘n ring trek, klein kindertjies en al. Ek weet steeds nie hoe sy dit reggekry het nie.

Ek het mos ‘n tweeling gehad en ons was op die plaas. ‘Pottietraining’ op die plaas was baie meer informeel as wat dit op die dorp sou wees. Sulke informaliteite bring natuurlik gevaarlike gevolge. Hulle het mos heeltyd buite gespeel en sou daar ‘n behoeftetjie ontstaan, kon dit sommer daar in die veld aangespreek word. Maklik! Dis natuurlik ‘n ander ding as die behoefte skielik op ‘n winkelstoep onstaan, of langs ‘n besige straat tydens spitstyd! Jongie! Julle wil nie weet nie! Wanneer die mamma dit agterkom, is dit reeds te laat!

Sy vertel ook van ‘nee’. ‘Ek wil nie daardie klere aantrek nie’. Die seuns was maklik, ek het ‘n rak gehad vir ‘dorpskleertjies’ en ‘n rak vir ‘plaaskleertjies’. Elke oggend het ek net gesê, ‘dorpskleertjies’, of, ‘plaaskleertjies’. Hulle het dan self gekies op die betrokke rak. Daardeur was baie tyd en moeite gespaar. Ek wou ook graag elke kind die voorreg gee om self te kies en nie ‘n replika van die tweelingboetie te wees nie.

Meisiekinders is egter anders. Ek het vroeg geleer om nie ‘n voorstel van ‘n rok te maak nie, selfs al was dit die gunstelingrok! ‘Ek wil nie daardie rok aantrek nie, ook nie daardie een nie.’ ‘Dis reg my kind, trek aan net wat jy wil. Ek is seker die dorps- en plaaskleertjiereël sou seker toe steeds gegeld het.

En voor jy jou oë uitvee, is hulle groot en verlang jy na die tye wat jy hulle in kombersies kon toedraai.

Mooi loop.

Toortsie

25 thoughts on “Tweejariges

  1. My dogtertjie het ook van klein-klein af self gekies- soms n strappierokkie in d middel vd winter- bo-oor n langmoufrokkie. Ma het geen sê in d saak gehad nie. En dit moes n draairokkie wees( as jy id rondte draai moet die rompie regopstaan van wydheid)

    Liked by 1 person

  2. Baie waar, maar baie keer dinge wat ek eers veel later geleer het. Soos om nie voorstelle van rokke te maak nie. Sondae kerk toe was nogal ‘n stoeiery. Vandag weet ek dit was sommer onnodig om te bekommer dat sy elke Sondag dieselfde prinses rok wou aantrek kerk toe. 😆

    Liked by 1 person

  3. Ek het nou ‘ tweejarige kleindogtertjie, met ‘n BAIE sterk willetjie. Vyf weke te vroeg gebore, so sy veg aanmekaar. Ek sien sy skuif die grense so met skoene. Moenie dink sy hou haar skoene langer as tien minute aan nie! En dan is sy nog fiemiesrig ook oor watse skoene! Ek lag maar waar haar Mamma my nie sien nie..

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!