Week 5

Vier weke van herstel is verby en ek is in week vyf.

In week vyf mag ons dat ons liggaam ons lei, maar ons mag niks oordoen nie. Ons moet genoeg rus en gebalanseerd eet. En ons mag self motor bestuur, ek neem aan vir kort rukkies, want as ons Kaap toe wil ry, slegs as passasier. Ons mag begin huiswerk doen, selfs wasgoed ophang, en begin stap. Ja! Ja, ek mag begin stap! Tien minute per dag vir twee dae, dan 25 minute per dag vir drie dae en dan 30 minute per dag vir twee dae. Prys die Here!

Ek het my tot nou toe mooi gedra, baie gerus, my besig gehou op die bed. Soms het ek dalk onbewustelik wel iets gedoen wat ek nie eintlik moet doen nie. Ek het nie pyn nie, behalwe nog vir ‘n stekie hier en daar. Ek dink dit gaan goed.

Ek het die huisarres redelik goed hanteer, alhoewel die draad maar soms kort was. Sondagmiddag het my eerste stukkie gaan stap, met manlief aan my sy. Maandag net vinnig in Napier na die winkel langsaan gestap. Gister was dit koud en winderig, geen stappery nie. Toe, vanoggend, skyn die son, dis ‘n lieflike wintersdag. Wonderlik! Die stappie was fantasties. Net tien minute, soos die voorskrif, maar dit het gevoel of ‘n gevange vrygelaat is. Sjoe! Daar is vordering! 🙂

Intussen belowe ek ek gedra my steeds goed. Ek kyk mooi na myself. ‘n Vinnige uitstappie na die skryfbehoeftewinkel is genoeg vir een slag en een dag en dan vra my liggaam om te rus. ‘n Klein bietjie rekenaarwerk en rus. Wasgoed in die masjien gooi en rus en dan is Maria genadiglik hier om dit op te hang. ‘n Nuwe resep uittoets verrig ook wondere. 🙂

Die huisarres is beslis gelig, die slotte is oopgesluit, hier is ‘n bietjie meer beweegruimte. Dankie tog, daar is lig in die tonnel. 🙂

Ek het nie by alles uitgekom wat ek wou nie, ek het gedink my borduurwerk en skoonseun se gebreide trui sou klaar wees, maar helaas.

Toortsie

26 thoughts on “Week 5

  1. Is die natuur nie ‘n fantastiese aansporing om gesond te word nie? Ek is ook nou op pad strand toe na twee weke se stapdroogte. Ek het nog seer hier en daar en die griep het my ietwat lam gelaat, maar nou raak ek kriewelrig.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!