Die Towerinne vier fees

Kyk, as daar iets is wat die Towerinne kán doen, is dit feesvier. Die geringste rede is genoeg om bymekaar te kom en partytjie te hou, veral noudat daar ‘n hele paar nuuswaardige dinge in Rebusfontein gebeur het. Eerstens het Willemien Winter Woorddief die kosbare snoer gegaps met die woorde waaroor ons moes skryf en by Vuurvliegie vir ons ‘n klompie leidrade gelos waaroor ons ‘n Rebusfonteinstorie moet skryf, dan sal sy ons glo uitlos. Ongelukkig weet ‘n mens nooit met sulke mense nie.

Intussen is die partytjie gereël, sowaar in tannie Frannie se toring! Hester het die aap uit die mou gelaat, dit is om al die nuwelinge by Rebusfontein te verwelkom. Daar is Danie, Una se hippiehond. Wáár sy hom gekry het, weet ek nie, maar dit klink vir my of daar iewers ‘n skroefie los is, as ek mooi luister na wat Hester vertel, sy is glo deesdae Engela. ENGELA? Wat jy wáár kry? Terloops, toe ek in my huisie kom en al my laslapstrooikussings is weg, het ek nogal gewonder of Danie nie iets daarmee te doen het nie, maar nadat ek hom goed bekyk het, het ek gedink, nee, nie hy nie. Iemand anders het dit gegaps en in die toring gaan sit sodat ons almal darem ‘n sagte sitplekkie op die vloer kan hê.

Wag, laat ek julle eers gou vertel van Franco!

Foto geleen by Facebook.

Franco is deur Vuurvliegie ingevoer om ons te kom leer lyndans. Eintlik is Seegogga die lyndansjuffrou, maar sy gee nie om dat Franco, met die hulp van Frangelico en baie sjampanje, ons ‘n bietjie kom afrond nie. Ag nou ja, soos dit mos maar gewoonlik is, is daar altyd ‘n vlieg in die salf en Lorenzo voel nou weer ‘n bietjie bedreig. Italianers! Ai toggie. Hy het hom al weer uit sy naam uit vervies toe hy sien iemand anders kry nou meer aandag as hy! En dan vererg Kameel haar so as ek nie kan byhou met al sy name nie! Toortsie en Scrapydo is nou besig om vir almal sulke rooi broekies te maak met bypassende bont gehekelde helpmysterklykhempies. Die outfits moet reg wees, anders help die hele oefening net mooi niks! Woordnoot en Una het reeds vooraf geoefen, maar, tipies Towerinne, het alles nie heeltemal so glad verloop soos verwag is nie. Perdebytjie en Trommeltjies lê soos hulle lag vir die petalje. Perdebytjie staan natuurlik, met haar kamera gereed vir enige gebeurlikheid.

Skielik is daar ‘n onaardse gebrul buite. Christa, geklee in die mooiste Kazakh-uitrusting, skrik haar byna boeglam. Sy het dan gedink Rebusfontein is so ‘n rustige, stil dorpie? Tannie Frannie is egter in ekstase! Dis Silver op sy motorfiets! Hy het haar sowaar kom verras! Vir diegene wat nie weet nie, Silver het danksy VirgoC met die Towerinne te doen gekry.

Intussen wag almal vol opgewondenheid om te sien of Pajamasmetsokkies betyds gaan opdaag vir die partytjie. Sy is een van die nuwe intrekkers op Rebusfontein, maar sy is nog nie hier nie. Almal wil haar so graag ontmoet!

Waar is Kameel en Bondelsgedagtes? Is hulle by Trommeltjies se visdam besig om hulle voete te baai, of kry hulle raad by Scrapy se uiltjie, genaamd Porkie? Ek kan dit amper nie dink nie, beide van hulle kan ons ander met genoeg raad bedien. Of dalk, net dalk het Kameel haar hande vol met Camilla? Wie sal ooit weet? En vir al wat jy weet, hou Pasella vir Bondelsgedagtes besig met al sy sêgoed?

Postief en Sonell het laat weet dat hulle op pad is, hulle is net gou besig met die laaste voorbereidings.

As julle meer wil weet van die Towerinne se verbeeldingsvlugte en wat hulle alles in die magiese Rebusfontein, #MiddelManzi, aanvang, kyk hier. Sou jy lus wees om saam te speel, doen so. Ons is altyd bly vir nuwelinge wat saamspeel.

Alles suiwer verbeelding van die Toortsie.

Groete

26 thoughts on “Die Towerinne vier fees

  1. Nou ja, daar gaat ons weer met n heerlike fees wat binnekort gaan uitbars daar uit die spesiale toring. Gelukkig is dit vandag die laaste dag van die tweede kwartaal. Lekker twee weke vakansie vir my en hul voorspel nat trietsige binnebly weer. Ideaal vir my om te sit en skryf. Dis n interessante aanhef waarmee jy hier begin het. Is daar nie n inlinkz skakel nie?

    Liked by 1 person

  2. Is so goed geskryf!!! Nou begin die creative juices weer vloei! Ek moet bieg, ek het nie die woorde self gaan opsoek nie, net ‘n cross reference tussen jou en Hester se blogs gemaak….sneaky….

    Liked by 3 people

  3. Gehekelde helpmysterklykhempies – net die gedagte laat my histeries giggel. Bytjie, as daai fotos van my op Vuisboek beland, sal ek nooit weer my gesig kan wys in die werklike lewe nie. Welgedaan Toortsie, hierdie gaan ‘n fees der feeste wees.
    Ps. So dit help toe nie veel om die woorde weg te steek nie? 🤔

    Liked by 1 person

  4. Daardie rooi broeke en gehekelde hempies…not in your life, met al my flappende velle. Ek sien die prentjie dis dis dis skreeusnaaks…. en iets om bitterlik oor te huil 😂😂😂 Toorts jy is reg ek is bekommerd oor Camilla.

    Liked by 1 person

      1. Sy antwoord nie haar foon nie. Ek wil hoor hoe dit op Rebusfontein gegaan het toe sy verlede week een aand daar oorgeslaap het….maar kry haar nie in die hande nie. Dan is ek ook nie lus vir alles wat in die werklike lewe aangaan nie. Ek is moeg vir drama, en karakters vol drama in dié deurmekaar gesin. Ek is moeg vir my rol op die lewensverhoog en vergeet my woorde…. of is net nie meer lus om hulle te leer nie. Miskien is Hester reg en my hormone is deurmekaar.!!!

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!