Die uitdaging van blogging

Om gereeld te skryf op jou blog het maar sy uitdagings, veral as jy al jou neënde herdenking van jou blog vier en reeds meer as 503592 besoeke aan jou blog gehad het.

Eerstens is die grootste uitdaging om nie vervelig te wees nie. Jy het mos maar jou ou storietjies, jou gedagtetjies en kan nie veel meer skryf as net dit nie. Dit laat my dink aan soveel bekende storievertellers aan wie se lippe die mense hang, maar as jy mooi luister, vertel hulle maar eintlik dieselfde stories oor en oor. Dis waarteen ‘n blogger, soos ek, moet waak.

Die volgende uitdaging is om eerlik te wees. Eerlik met jouself, eerlik met die lesers, sonder om ongeskik te wees en op tone te trap.

As kind het ek geglo ek kon nie opstelle skryf nie. My opstelletjies het net nooit goed genoeg gevoel nie. Ek kon wel feite-opstelle skryf. Ek het geglo ek het nie ‘n verbeelding nie en as ek kyk na wat van die ander mense skryf, skiet my verbeelding steeds ver te kort. Ek wonder al hoe meer of dit nie vrees is nie, bang vir wat mense gaan sê oor jou lawwe idees. Daar is steeds goed wat ek net nie sal skryf nie, omdat ek weet hier is mense wat my ken wat dit lees. Deur te waag wanneer ek uitgedaag was om dit te doen, kon ek dit al hoe meer regkry om tog iets te verbeel en dit neer te skryf.

Bloguitdagings is vir my ‘n groot uitdaging, dit druk my ver buite my gemaksone. Die uitdaging is dan ook om relevant te bly, te skryf wat ek regtig glo en nie sommer net woorde te pleeg nie, wat ek natuurlik partykeer doen. Die klaskamer van blogging is nie altyd maklik nie. Soms het jou blog regtig ‘n bietjie opknap nodig. Maar wat, daar is min dinge wat ‘n koppie lekker tee nie kan regmaak nie!

Om kroostrooster te wees, is iets wat ek nie so baie doen nie, of kan dit tel as my kleinkinders sommer net vir ouma en hulle lekkerte kom kuier?

Al hierdie woorde in swart gedruk, is woorde wat Scrapydo uitgedink het as bloguitdaging. Die eerste week het net ek geskryf, die tweede week was ons twee. Hoe lyk dit, waar is die ander wat dit wil waag om te skryf? Toe man, doen dit, dis lekker en onwikkel jou skryftalent.

Groetnis,

Toortsie

22 thoughts on “Die uitdaging van blogging

  1. Sjoe, hierdie skrywe kom so in tyd op my pad. Ek is in die proses om ysters uit die vuur te grawe – en my blog is een van hulle. Ek is mal oor skryf, maar dit voel vir my my blog trek my af – of hou my terug. Daar is soveel baggasie wat ek saamsleep en dit veroorsaak dat ek in skrywersgroewe en -blokke beland wat soveel moeite vat om uit te kom. Aan die een kant voel ek om die blog heeltemal tot niet te maak en oor te begin…. maar aan die anderkant is ek bang om te laat los, want daar is boodskappe vir my dogters. Boodskappe wat ek so graag gehoop het hulle lees raak…. en as ek my blog afhaal en ‘n nuwe blog begin, ‘n nuwe bladsy omslaan; dit sal voel of ek ‘n deel van my uitvee. Maar ek wil ook nie meer vasklou nie, ek wil die verlede laat los en laat gaan. Ek kan al die ander ysters uit die vuur krap, maar hierdie een is vir my die moeilikste – en ek weet nie wat om te doen nie.

    Liked by 1 person

    1. Ai Andorize, en ek dog ek pleeg net ‘n spul woorde!
      My raad? Moenie sommer jou blog uitvee net. Ek het dit al gedoen en ek weet van soveel ander wat dit al gedoen het en spyt is daaroor. Selfs al vee jy dit uit en jy begin oor, is jy mos maar jy.
      Onthou ook dat dit juis jou swaarkry is wat vir soveel ander ook gehelp het, ander wat in dieselfde of soortgelyke omstandighede is.
      Dalk, as jy tyd het, kan jy van jou ou bloginskrywings waaroor jy begin twyfel, deurlees en heroorweeg, in plaas daarvan om sommer net uit te vee. Of neem net ‘n blogvakansie. 😊
      Sterkte met jou besluit.

      Like

  2. Dankie vir hierdie blog Toortsie…ek neem dit ernstig op want jy is al ‘n ervare blogger. Soms dink ek ook om op te hou, want ek voel ek praat dalk te veel, maar is dit nie maar die doel van ‘n blog nie? Om te skryf om jou hart ligter te maak nie? Daarom dat ek die kort dankie sê blog begin het…om myself te dwing om in hierdie moeilike tyd te bly skryf. Dis so random, maar ek beskou dit as ‘n lifeline. En ek gaan probeer om saam te skryf… dis hoeka nie baie woorde nie.

    Liked by 1 person

    1. Mens voel regtig soms om jou blog af te vee. Ek het dit een keer gedoen en was baie spyt daarná. Vat eerder blogvakansie en rus ‘n bietjie as jy so voel, maar moenie dit uitvee nie.

      Like

        1. Dis so kosbaar. Mens kan dit nie net weggooi nie. Ek verbrand elke keer my bidboek as hy vol is, en dit voel verskriklik, maar ek kan dit nie hou nie, dis net te persoonlike goed wat ek daarin skryf en dit kan iemand ontstel wat dit lees.

          Like

          1. EK het nou die dag my kas reggepak en op my joernaal afgekom wat ek gehou het toe ek gediagnoseer is….ek dink ook ek moet hom brand…

            Like

            1. Dink eers mooi. Wat jy oor jouself skryf, is veilig. Ek skryf soms my hart uit oor my gesinslede en ek dink nie dis gied dat hulle dit sommer lees nie. Mense maak so maklik verkeerde afleidings wat jy glad nie bedoel het nie.

              Like

  3. Baie dankie Toorts jou liggie skyn steeds helder voort. Ek is dankbaar dat jy die uitdaging doen. Dit is eintlik lekker om om n uitdaging te werk. Ek het n foutjie gemaak met die hoeveelheid wat geskryf het. Dr Christa het ook n lekker lang plaas onthou geskryf. Ek sal haar komende week ekstra bedank.

    Liked by 1 person

    1. Broodnodig….dis die regte woord. EK dink ook eintlik dit raak soos n afhanklikheid. Mens wil nie skryf nie, maar die oomblik as jy dit wel gedoen het, voel alles sommer net beter….

      Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!