Hier’s lewe

Soos alle oupas en oumas sal beaam, is daar niks wat ‘n mens so opvrolik soos jou kleinkinders nie. Kleinkinders het die vermoë om ‘n oupa/oumahart verlig, hartseer en siekte verjaag, vreugde en energie bring soos nie eers rooi kan nie, en ek belowe julle, om rooi te oortref, moet hulle goed wees. 😊

Soos julle seker aflei uit die inleiding, ons kleinkinders het kom kuier. Ag hoe lekker! Ons lag en gesels en bou blokkies. Die karrietjie zoemzoem op die onmoontlikste plekke, jy moet net mooi kyk hoe jy trap. Ons lees boeke en soek goed wat weggesteek is in prenteblaaie. Ons deel drukke en soene uit en soen einas weg. Ons maak krismisbed en slaap op die vloer op ‘n matras. Ons leer Xhosa en sus druk die regte knoppies. Hul leer mos deesdae Xhosa in die skool ook en boet herken sommer dadelik die taal en leer vir ouma hoe om sy juffrou te groet en nog ‘n paar woorde. Te lekker. Ons leer brei en die tannie vleg krulhaartjies. Ons teken prentjies. Hulle help oupa in die groentetuin en om die vis te braai. Dis groot pret as hulle agteroor van ouma se bed afval op die matras. Ons lag ons gate-uit as iemand ‘onbewustelik’ op ‘n poep-kussing gaan sit. 😂 Ag, en die dag lê nog voor en hier moet nog baie dinge gebeur.

Wat ek net eintlik wou sê, dit lewe in hierdie huis. Speelgoed lê die huis vol. Net so stadig die afgelope drie weke se dae omgegaan het, so vinnig gaan hierdie dae nou om, heeltemal te vinnig.

Dis tog te lekker. 😊 Ouma is sommer baie gesonder! Hulle speel sommer hier saam met ouma op die bed en gee nie om dat ouma meer horisontaal verkeer as gewoonlik nie.

Toortsie

20 thoughts on “Hier’s lewe

  1. Kosbaar Toortsie. Die Oom sê altyd dat as hy geweet het dis so lekker om kleinkinders te hê, het hy hulle eerste gehad! Dis net die regte medisyne nou vir jou!

    Liked by 2 people

  2. Dit klink asof jy dit omtrent geniet en nou weet jy ook hoekom jy Xhosa begin leer praat het. 😀

    My seuns het dit duidelik gemaak hul gaan geen kinders hê nie, so my Rambo en my spinnekoppe en goggas is maar my kleinkinders. 😂 Die huis is altyd vol van Rambo en Russel se speelgoed en gelukkig het hul al mooi geleer om dit te bêre ook. 😀

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!