Dwelms en plaaslewe – wasdagopdrag 2

In opdrag van Scrapydo. Sy sê: Skryf oor dwelms, jeugdiges, voorkeure en/of afkeure, plaas, voëls. ‘n Mens mag een van die woorde kies, of sommer almal.

In my hele lewe het ek nog nooit regtig met dwelms te doen gehad nie, daarvoor kan ek net die Here dank. As plaaskind in die sewentigerjare was dwelms iets ver. Ons is baie beskermd grootgemaak, in die koshuis was daar beslis geen sprake van so iets nie en naweke is ek huis toe, wat die dorpskinders gedoen het, weet ek nie. Tog wil ek glo dat dit nie iets was wat baie algemeen was nie, sekerlik nie onder my klasmaats nie, ek sou tog daarvan gehoor het. Selfs op universiteit sou ek nie weet waar om aan te klop as ek so iets benodig nie.

Deesdae, klink dit my, is dit baie meer algemeen beskikbaar en iets waarmee jeugdiges blykbaar makliker eksperimenteer. Weer eens, genadiglik nie almal nie en die meerderheid jongmense wat ek ken, sal beslis nie daarmee speel nie.

Selfs op die plase tussen die plaaswerkers raak dwelms deesdae iets wat ‘n mens raakloop. Ek weet byvoorbeeld van ‘n man wat by ons gewerk het en sommer een van die trekkers gebruik het om by die bure voorraad te gaan haal! Die mooiste van alles was dat hy nie eers ‘n trekkerdrywer was nie!

Almal het seker maar hulle voor- en/of afkeure. Party mense voel dit is nie so erg om daarmee te eksperimenteer nie. Vir my is enige dwelms, dagga inkluis, tabóé. Dit mag dalk onskuldig lyk, maar ongelukkig is die skade wat so iets in ‘n mens se lewe maak, onherstelbaar. Daar is geen redenasie wat my sal oortuig dat dwelms goed is vir ‘n mens nie, ook nie dagga nie. Ja, ja, ek weet, ek hoor van dagga-olie. Ek wonder soms of die bietjie medisinale voordele nie oorbeklemtoon word ter wille van die gebruik van sommer alle dagga nie! Moet dus nie probeer om my te oortuig nie, soos ek gesê het, jy mag jou eie voorkeure hê en ek myne. Ek gaan ook nie my asem nou hier mors met ‘n prekery nie, mense mag dalk dink dis vir die voëls!

Geniet jou dag. My opdrag is voltooi. Loer gerus in by Scrapy, alk het jy ook lus om aan die uitdaging deel te neem.

Toortsie

16 thoughts on “Dwelms en plaaslewe – wasdagopdrag 2

  1. Ja, ek is tog maar bly dat ek as jongmens die dwelm-era misgeloop het. Dit was cerg genoeg dat almal gerook het (ek inkluis) en deesdae kan ek nie ‘n sigaret naby my hanteer nie. Drank was toe wel al ‘n probleem.

    Liked by 1 person

        1. Ek dink nie hulle het geweet wat dit is nie, want so baie van hulle het gerook. In St 6 het iemand ‘n video gewys by die skole van wat die effek van rook is. Wat my oortuig het om dit nooit te doen nie, was die gaatjie wat in ‘n ou se keel gemaak is nadat hy keelkanker gekry het.

          Liked by 1 person

  2. Die dwels is n groeiende bedryf, Die handelaars moet eintlik opgesluit word. Dis ook soos jy en Hester noem ons het in n rustiger tyd opgegroei. Sterk drank was maar die euwel van ons tyd gewees. Hier is hul hard besig om dagga te wettig vir medisinale gebruik. Dan is daar nog die sintetiese dagga(waarvan ek nie veel weet nie) kon hul in kafees gekoop het. Dis nou verbode en word op swartmark voorsien. Dankie vir jou deelname ek waardeer dit baie.

    Liked by 1 person

          1. Ja, mens het ook maar nie besef wat dit was nie. Ek het een slag n plantjie in prokureur se tuin ontdek. Hy was nie baie beindruk nie. Moes van die bouers gewees het wat dit geplant het. Die erf het nie heining gehad nie. Was dus ideaal so tussen die langer gras en bossies.

            Liked by 1 person

  3. Dagga het besliste medisinale eienskappe. Dit het jare gelede n vriendin van my se erg gestremde bedlêende dogter se lewe gered toe haar spysverteringstelsel gaan staan het. Medici kon niks vir haar doen nie, sy het erge pyn gehad en daar is geglo dat sy sou sterf. Uut desperaatheid het my vriendin dagga in die hande gekry en vir haar daggatee gegee om te drink. Dit het gewerk. Sy het toe sommer n daggaplantjie langs haar voordeur geplant en met daggatee het haar digter se spysverteringstelsel weer herstel en sy het nog jare daarna geleef.

    Liked by 1 person

  4. Ja, ek dink as kinders was ons eintlik baie gelukkig. Ek het eerder in die biblioteek gekuier as by maats, so ek was seker baie gelukkiger. 😀

    Ek is ook baie gelukkig in daardie opsig dat my 2 jong manne nie belangstel in dwelms nie. Dalk is dit daai vrees dat ma hul sal doodslaan. 😅

    Dagga ken ek want my stiefpa het dit gerook en dit het ons nie gepla nie. Dit het hom baie ‘gechill’ gemaak, solank hy net nie saam dit gedrink het nie. Dan het hy sy kitaar uitgehaal (en hy kon nie speel nie) en dan moes ons luister hoe hy Elvis liedjies sing. 😂

    My ma het kanker gehad en ek moes gereeld die dagga-olie insmeer. Sy het gesê dit het haar baie gehelp.

    Ek dink in vandag se lewe word alles oorbeklemtoon net sodat almal kan geldmaak en dit maak nie saak wie se lewe verwoes word nie, en dit sluit dokters in wat maar net ‘n lisensie het om hul dwelms te verkoop. Ja, prekery gaan niks help nie. Mense sal doen soos hul wil. 😀

    Geniet jou dag ook hoor. 😀

    Liked by 1 person

  5. Ek gaan dadelik ‘n daggaplantjie plant vir tee. Sukkel mos in laaste tyd met spysvertering. Toorts almal om my (kennisse) heť dagga gerook, maar ek kon net nie daardie bottelnek vat en rook nie… iets het my altyd gekeer. Vandag glo ek dit was die Here se ingryping.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s