Verandering van rigting

Vir Toortsie om van rigting te verander, is glad nie vreemd nie. Die lewe is mos ‘n reis en die roete nie uitgekap in klip en steen nie. Een ding lei tot ‘n ander.

Kom ek verduidelik hoe dit werk.

Toortsie sal graag iewers in haar lewe die Camino de Sangiago wil gaan stap. As die Here ander gedagtes het vir haar, is dit ook reg, haar lewe hang nie daarvan af nie, maar dit is wel ‘n stille begeerte van die hart.

Só beveel Maréth, wat al twee volle roetes van die Camino voltooi het, aan dat ‘n mens ‘n bietjie Spaans moet leer praat as jy dit wil stap. Dit maak net jou lewe aansienlik makliker, wat logies klink.

Terwyl Toortsie nou so sit en tyd omkry op haar herstelpad, grawe sy weer die notas uit wat sy gemaak het tydens Maréth se toespraak, en besef dat dit eintik nou ‘n goeie tyd is om Spaans te begin leer. (Toortsie leer maar moeilik aan ‘n nuwe taal.)

Sy vorder einlik baie oulik met die Spaans, maar die klein stemmetjie in haar agterkop bly kerm: Hoekom soveel tyd met Spaans spandeer en jy is glad nie eers seker of jy dit óóit sal gebruik nie? Dink jy nie jy moet eerder Xhosa leer nie? Dis ‘n taal waarmee jy gereeld te doen kry? Dis ‘n brugboutaal. Jy het al in jou universiteitsdae in die Taallab op Stellenbosch gaan sit om Xhosa te probeer aanleer. Moet jy nie eerder jou kragte daarvoor inspan nie, dit klink baie meer logies? Toortsie hou nie daarvan om iets sommer net te doen nie, sy moet ‘n rede hê hoekom sy dit doen.

Toortsie loer by Dualingo of Xhosa ‘n opsie is, maar dit lyk nie of hulle dit aanbied nie. Google: Learn Xhosa. Hulle verwys Toortsie na Memrise, maar as sy die app op haar foon aflaai, is Xhosa nie een van die beskikbare tale nie. Toets dit op die rekenaar, en sowaar! Xhosa ís wel een van hulle tale. As jy eers ingelog het, is dit sowaar ook op die foon beskikbaar.

Dus, vandag het Toortsie van rigting verander. Die Spaans is nou eers ‘n bietjie op die ys gesit. Die besigwees met Spaans was nie vermorste tyd nie. Ek het ‘n klompie woorde geleer, en sou ek ooit regtig na ‘n Spaanse land gaan, kan ek mos maar weer probeer aangaan. Ek het goed gevorder. En dít was die grootste waarde van die hele oefening, dat ek ‘n muur in my eie kop afgebreek het, die gedagte dat ek nie kan onthou nie en ook nie ‘n nuwe taal kan aanleer nie. Dis sommer nonsens! Ek het gesien dat, met ‘n paar minute per dag ‘n mens sowaar ‘n klompie woorde kan aanleer. Ek vertrou dit sal al hoe makliker gaan en sodra ek moed begin kry, kan ek die Xhosas wat ek raakloop, vriendelik in hulle taal groet.

Dit maak vir my sin.

Ndifunda isixhosa. (Ek hoop ek het dit nou reg! 😳)

Groete

Toortsie

27 thoughts on “Verandering van rigting

  1. Toortsie, ek het lank gespaar en geoefen en verlede jaar die Portuguese Camino gaan loop. Hou op om jou oor die Spaans te bekommer. Ek het heeltemal reggekom met Afrikaans (wat niemand kon verstaan nie), handgebare en Engels. Om Spaans te kan praat is ‘n luukse maar beslis nie noodsaaklik nie.
    Dit is ‘n wonderlike ervaring, moet dit nie van jou emmerskoplys afhaal nie!

    Liked by 1 person

    1. Ek het regtig al gesien dat ek met vriendelikheid, handgebare en doodgewone Afrikaans baie ver kom in Europa. Mens voer mos nie elkelange tesprekke met die mense nie. 😁

      Like

  2. Jy is voorwaar ń wennertjie. Kyk nou net watse voorbeeld stel jy. Ek kan steeds na 16 jaar nie Indonesies praat nie, maar verstaan redelik wat hulle in hul taal sê. Vreemd, maar ek dink ek is nou maar eenmaal nie in tale aangelê nie. Dit nou terwyl my ma vlot Russies kon praat en vir lank in die ambassade gewerk het.

    Like

    1. Begin net loop. Eers om die blok, dan bietjie verder, sprei dit uit na 5km en voor jy jou kan kry loop jy lekker vêr. Die omgewing op die Camino is so mooi, jy kom nie eers agter jy loop so ver nie. Doen dit net!

      Liked by 2 people

  3. Oooooo nou klop my hart sommer warm vir jou. Dis opwindend om iets nuuts te leer. Dan die vrugte wat mens daarvan pluk is natuurlik heerlik soet. Dis met alles, klein treetjies op n slag tot jy geoefen is om meer te loop en dan jou afstand na die einde te bereik.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!