Vreemd

Ek en my man gaan na die jaarlikse boereverenigingdinee, ‘n baie netjiese affêre. Ek gaan sit aan die hooftafel, ek is mos op die bestuur. My man sit op ‘n ander plek.

Toe ek aan die tafel gaan sit, sê ek, ek moet mos hier sit, ek is mos op die bestuur en ek wil nie netnou dalk opgejaag word omdat ek nie hier moet sit nie. Ek kan sien dat ds Ollie, ‘n predikant wat ons seker so tien jaar gelede gehad het in ‘n ander gemeente, ‘n effens ongemaklike uitdrukking op sy gesig het. Hy is die voorsitter.

Ek ken nie een van die ander mense aan die tafel nie, hoofsaaklik vroue, en sien toe dat die plek waar ek sit, nie my naam aandui nie. Intussen deel die res van die tafelgenote papiere uit onder mekaar, dit lyk soos bybelstudiepapiere wat ds Ollie gemerk het. Ek kry nie een nie. Niemand praat met my nie.

Uiteindelik kom sit hier darem iemand langs my wat ek ken, Suzanne, ons was groot maats op Universiteit in die vroeë tagtigerjare. Ek vra haar hoe dit dan kom dat sy op die boereverenigingbestuur is, sover ek weet woon hulle in Pretoria? Sy sê hulle boer met varke.

Intussen begin ek wonder, is ek ooit op die bestuur? Hoe is dit dat ek nie eers weet nie? Was ek dan so apaties dat ek nie eers deelgeneem het aan die bestuursaktiwiteite nie?

Ek besluit om my man te gaan soek, maar daar waar hy sit is daar nie plek vir my nie, ek het mos aan die bestuurstafel gaan sit. Ek kan sien hy is effens vieserig vir my.

Met ‘n sak juweliersware wat ek vasgelê het in die hand, glip ek so ongesiens as moontlik weg. Ek staan langs die pad toe ‘n voertuig met rowers in skielik by my stop en hulle sê ek moet ook inklim.

My man is een van hulle.

Toe raak ek wakker. Doodstil lê ek in my bed, voel, ja, my man lê soet langs my. Geen sakke juweliersware nie, geen naamkratermakery by ‘n ete waar ek gedink het ek is deel van die bestuur nie, geen rowers nie, net ‘n lekker lawwe droom.

Toortsie

12 thoughts on “Vreemd

  1. Jy het my nou amper gevang…ek was sommer klaar verleë om jou ontwil! Gelukkig vir my en jou, was dit net ‘n droom…so ‘n egte Towerindroom, met gesteelde juwele en boewe die lot!

    Like

        1. Ek mag al ‘in die tuin loop’. So, ek stap by my voordeur uit, maar nie verder nie. Week 4 mag ek as passasier Checkers toe gaan en halfuur daar vertoef. Ook 15 min in en om huis stap. Mag begin kosmaak. Ek bak darem nou al ‘n eier.

          Like

    1. Ek kan gewoonlik die oorsprong daarvan bevestig deur hoe dit my kaat voel. Al wat ek gevoel het, was ongemak. Ek kan nie lekker agterkom waar dit vandaan kom nie. Ek was nie bang toe die jar by my stop nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s