Opvoeding is in my lewe seker, naas my geloof, prioriteit nommer een. Ek glo dat ‘n klomp probleme in ons land opgelos kan word net deur goeie opvoeding. Ja, opvoeding is nie alles nie en daar is baie dinge betrokke, soos eerlikheid, beter leierskap, goeie geldbestuur, werksetiek, noem maar op. Tog, op die ou end kan al daardie dinge teruggelei word na opvoeding. As ‘n persoon iets nie weet nie, hoe kan hy dit uitvoer?
Toe my kinders klein was, kon ons nie bekostig om die speelskool, sowel as goeie opvoedkundige speelgoed, te betaal nie. Dit was, óf goeie opvoedkundige speelgoed, óf speelskool. Genadiglik was voorskoolse onderrig nie in daardie tye verpligtend nie.
Ek het speelgoed gekies. Maand vir maand het ek die speelskoolgeldjies eenkant gesit en as daar genoeg was, iets ouliks bykoop. Vir ons gesin was dit ‘n goeie besluit. Ek was bereid om dan self met hulle te speel en het gereken, drie ure speelskool per week gee jou ‘n halfuur per dag, Maandag tot Saterdag. Dit was die minimum wat ons moes speel. Ek het ook gereken dat hulle baie meer sou kry as by die speelskool, omdat daar een aktiwiteit per week was. Al wat hulle ongelukkig nie gekry het nie, was kunsontwikkeling, want hierdie ma weet nie van teken nie.
Elke dag was dit mammatyd vir omtrent ‘n uur en het ons gespeel of gaan stap, of gesing, of wat ook al. Vanaand 8 uur het ons vir ‘n uur boeke gelees. Toe my kinders skool toe is, het die onderwyseres bevestig dat ek goed gekies het.
Later jare het ek met ons plaaskinders gespeel, so een of twee middae ‘n week. Lees ‘n bietjie hier: Is dit die moeite werd om met 8 plaaskinders te speel? Dit was van die bevredigendste goed wat ek kon doen, ek het mos nog al die speelgoed van my kinders gehad, en het bygekoop ook. Opvoedkundige speelgoed het goedkoper geraak oor tyd.
Nou sit ek steeds met ‘n kas vol speelgoed, reg vir wanneer die kleinkinders kom kuier sodat ons kan speel, speel, speel. Maar dis mos skoolvakansie en terselfdertyd moet ek my mos in die huis besighou, eintlik bedrus, maar ek mag al vir kort tydjies iets anders doen. Kyk hoe lekker speel die meisie wat my in die huis help, se kind saam met die tannie. Mammatyd herleef!

Ek skryf nie hierdie vir ‘n kloppie op die skouer nie, eerder vir bewusmaking. Dalk is daar by julle rond ook ‘n kindjie wat van ‘n bietjie aandag sal hou en dalk het jy in jou kas ‘n speelding of twee, of dalk sien jy ‘n oulike puzzle in die winkel wat nie te duur is nie. Gee ‘n paar minute van jou tyd vir daardie kind, dit is goud werd. Koninkrykstyd. ‘n Belegging in daardie kind se toekoms. Nie net wat sy brein betref nie, maar ook sommer vir sy siel, ‘n gevoel van ek is belangrik genoeg dat iemand aan my aandag wil gee.
Toortsie
Dis baie waar wat jy hier skryf, Toortsie, en behalwe dat die kind daarby baat, is dit baie goed vir ń mens se eie geestesgesondheid.
LikeLiked by 1 person
Absoluut. Dit is vir my ook lekker. 😊
LikeLike
Dis alles so reg in die kol!
LikeLiked by 1 person
❤️
LikeLiked by 1 person
Ek het so gemaklik gevoel met die kindjie, dalk omdat sy mamma en oom in die omtrek was?
LikeLiked by 1 person
Dit is so waar. Jy was ‘n goeie ma. Ek sou baie beter beplan en meer tyd met my kinders spandeer het as ek dit kon oordoen.
LikeLiked by 1 person
Dankie. Ek het my bes probeer. Ek was dalk net heeltemal te streng net die seuns.
LikeLike
Dit is so mooi. Dankie, laat my nou rondkyk.
LikeLiked by 1 person