Huisarres

Ses weke van huisarres is aan my toegeken. S e s w e k e. Ses lange weke. Ses uiters lange weke.

Want in hierdie ses x*%$ 6 lange weke mag ek ook nie in my huis eintlik maak wat ek wil nie, ek moet my ook nog gedra. Ek moet eintlik heeltemal niks doen nie. Stil gedra.

Dis nou nie dat ek op kosmaakekspedisies mag gaan nie, ek mag nie eintlik kos maak nie. Ek mag ook nie my huis herrangskik nie. O, wel, ek sal dit wel mag doen as ek soldate het wat dit namens my doen, maar ek self meubels rondskuif? O, nee!

Of vensters was nie. Regtig, ek hou nie van vensters was nie en het nie lus om dit te doen nie, maar as ‘n mens onder huisarres is, mag jy dalk net so ‘n bevlieging ook kry, maar dit is ook vir my tabóé. Ek sien juis my kamervenster is ‘n bietjie dowwerig. Ai.

Vir twee weke nou al mag ek ook nie eintlik kantoorwerk doen nie, tensy ek dit op my bed doen. Ag, ek dink ‘n paar minute op ‘n slag sal nie kwaad doen nie, maar nie, terwyl ek nou in my huis is, vir ure nie. Dit lyk my ek sal darem nou stadig, maar seker met kantoorwerkies begin. Bietjies-bietjies. Klein rukkies op ‘n slag.

Of ernstig naaldwerk doen nie. Dalk oor ‘n week van nou af, by week 4, mag ek stadig maar seker daaraan begin dink. Nou? Net ‘n bietjie brei of borduur of hekel OP MY BED.

Om die waarheid te sê, ek dink ek is amper onder kamerarres. Bedarres. En moenie dink ek mag in my bed doen net wat ek wil nie, selfs dáár is sekere beperkinge wat ek nou nie hier in die openbaar mag noem nie.

Twee uit ses. Twee weke uit ses weke. Dag 15 uit 42. Dis waar ek nou is. En ja, ek skryf alles uit, oor en oor, want ek het TYD. Tyd om dit te doen, net soveel soos ek wil. Ek mag blog so veel as wat ek wil, maar dit lyk my my bloginspirasie kruip ook iewers BUITE my huis weg, daar waar ek nie mag kom nie!

Toemaar, ek is nie só gefrustreerd soos ek nou mag klink nie. Ek het soveel goed om voor dankbaar te wees en ek ís regtig dankbaar. Ons operasies het goed afgeloop, daar kon soveel fout gegaan het. Ek het die wonderlikste uitsig en elke dag verander die natuur en raak die lappieskomberswêreld om ons net mooier en mooier. Ek mag tyd saam met my God spandeer, net soveel ek wil, en nee, ek moet erken, ek doen dit nie genoeg nie. Ek het baie mense wat vir my lief is en kom kuier. Ek is lief vir lees en borduur en brei en hekel en geniet elke oomblik daarvan.

Twee uit ses weke is sowaar al weer verby, waar het die tyd heengegaan? Ek moet net nie my oë knip nie, want binnekort is dit 6/6! Volpunte!

Toortsie

‘n Lekker lang stap in die berg sal darem nou lekker wees, hoor! Net terloops. Dalk is ek nou ‘n bietjie onfiks. Goed dan, ‘n lekker stappie in die dorp. Die bulte is dalk nou te erg. Man, sommer net tot aan die eine van ons straat op die gelykpad. Sjoe! Dit sal nou wraggies lekker wees. Laat ek dadelik op die lys loop kyk wanneer ek dit mag begin doen. Ai toggie! Eers by week 4 mag ek 15 minute stap in en om die huis. Nou ja, mooi dag!

38 thoughts on “Huisarres

      1. Met my rugoperasie moes ek baie lank net le en dit mit n stut om ook. Dit het soos n ewigheid gevoel maar ek is bly ek het gedoen wat hul gese het en dis toe n groot sukses gewees. Nou 20 jaar later is my lyf besig om te verklein en die skroewe en plate gee bietjie probleme as ek swaar optel wat ek nie mag nie. Dis my eie toedoen. Sterkte vir jou, dis vir n bedrywige mens nogal sieldodend. Lief jou hoor.

        Liked by 2 people

        1. Genadiglik kon ek beweeg ná my rugoperasie. Ek het toe baie meer ongemak verduur. Genadiglik verduur ek tans geen pyn nie en het ‘n vriendin lekker kom teedrink vanoggend by my. 😁 Dit gaan regtig goed met my. ❤️

          Liked by 1 person

  1. Ai tog! Al sien mens die positiewe is dit maar frustrerend – veral as jy daarvan hou om besig te wees.
    En glo my, mens luister maar wat die dr sê. Toe my voet gekraak was het ek hom geloop tot hy gebreek was en toe eers ses weke in gips gekry. Op die ou einde 4 maande lank gesukkel. So as die dr sê ek moet lê, dan lê ek, maar dis moeilik!
    Die voet breek was ook goed vir my, want toe kon ek begin skryf. Anders sou ek seker vandag nog rondgehol het en gewens het ek het tyd vir skryf.

    Sterkte vir jou. Hoop jy geniet die ledige en ook frustrerende oomblikke en ook die uitsien na vryheid van beweging! 💗

    Liked by 1 person

  2. Toortsie! Jy mag nie ingee aan daai stemmetjie wat sê” Net ‘n klein enetjie” of “net ‘n bietjie” kan nie kwaad doen ne! Daar is redes waaom dit SES weke is……dit gaan gouer verby en jy sal oor tien jaar baie bly wees jy het geluister! Maar sterkte..dis nie so maklik om net in die bed te bly nie, glo my vry!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!