Sommer net so woep-woep-woep

Nou, na meer as 26 jaar, dink ek skielik aan my dogter se dooppartytjie, dat ek so baie eetgoed gemaak het, ek het te min suiker gehad, dit was die middag op die plaas en daar het nie so baie mense opgedaag nie, ek moes dit eerder op die dorp by my ouers se huis gehou het, ek het seker gedink dit sal makliker wees om by my eie huis te onthaal as by hulle s’n, maar my ma sou dan die teedrinkery gehou het en dit sou regtig baie spesiaal wees, want sy kán onthaal. In daardie tyd was daar ‘n man uit die Transvaal of iewers by ons, sies tog, dit was geweldig droog by hulle en hy het by ons kom bly terwyl hy oral bale, wat ons boere vir hulle geskenk het, gemaak het vir hulle vee. Maar nou klop die somme nie so lekker nie, want die doop sou in ‘n tyd gewees het wat ons nie bale maak hier nie, dalk kuilvoer?

Nou hoé op aarde het ek hierby uitgekom? Sjoe! Saggies sif hier nou ‘n buitjie reën uit, ‘n regte Jakkals-trou-met-wolf-se-vrou-reëntjie.

Hoe het ek hierby uitgekom?

My man het laat weet ek moet sy sonbril in sy kep sit in ons kar. Ek het die sonbril gesoek en kon dit nie kry nie, maar ek weet nou waar dit is, ek moet net nie vergeet om dit te doen nie. Hy het net hierdie een ding van my gevra en ek moet kophou. Net hierdie een ding wat my skoondogter gevra het toe hulle getrou het, was dat ek moes help met my seun se pakkopery, maar hulle was in Natal en die pak is gekoop voor ek nog daarby kon kom. Die volgende spring my gedagtes na hulle seuntjie se doop en toe weer na my dogter se doop. Sommer so woep-woep-woep en dit in sekondes, alles net oor die een sinnetjie: net hierdie een ding.

Dis wat ons brein doen. Hy het net een snellertjie nodig om ‘n hele rits gedagtes aan die gang te sit. Dis juis dáárdie funksie wat ons gebruik wanneer ons Transformation Prayer Ministry (TPM, Transformasie Gebedsbediening) doen. Ons konsentreer op hoe jy nou voel, en dan onthou die brein gewoonlik sommer self van al die ander kere wat jy presies net so gevoel het, en kort voor lank kom ons by die wortel van daardie gevoel, lank terug in jou kinderjare, uit. En dan kan God daar heling bring as ons dit toelaat.

Breek vry van jou verlede – H. Norman Wright

Hierdie boek verwys ook baie na ons kleintydseerkry wat vandag nog ‘n invloed op ons het, en as ons dit kan regstel, ons heling kan kry, ook op vandag se seerkry.

Groete

Toortsie

3 thoughts on “Sommer net so woep-woep-woep

Gesels saam, asseblief!