As ons ander help

Ons mensdom het die geneigdheid om ander mense een of twee keer te probeer help en dan te verwag hulle moet wees waar ons is en nie meer foute maak nie, asof ons self ook nie foute maak nie.

Ons vergeet dat ons omstandighede dalk heeltemal anders is as die ander persoon s’n, dat ons dalk geleenthede en voorregte gehad het wat die ander een nie gehad het nie. Die ander persoon het dalk ervarings en omstandighede in sy lewe gehad, en het dalk steeds, wat hom kniehalter of onseker maak om sekere dinge te doen.

Ons vergeet dat ons al 56 jaar, of hoe oud elkeen van ons is, groei en werk aan onsself. Ons het nie gekom waar ons vandag is in ‘n dag se tyd of met een keer se raadgee nie. Ons het ook teruggeval, teleurstellings gehad. Ons het mense gehad wat baie geduld met ons gehad het en wat ‘n hand van hulp of raad uitgesteek het.

Die uitdaging wanneer ons iemand help, is om te kom tot daar waar hy is en nie te wil help van waar ons is nie, maar om te bepaal waar die persoon is en wat ons op daardie plek kan doen om die persoon te help. Wanneer ons hom help, moet ons dit in liefde doen en nie in ongeduld nie. Ons moet terugslae kan hanteer en aanvaar as die persoon nie reageer presies soos ons dit sou wou hê nie. Soms mag die uitkoms dalk anders wees as wat ons verwag. Hy mag selfs ander waarde daaraan heg as wat jy daaraan heg.

Wat ons moet onthou, is dat ons die persoon wel gehelp het. Dalk het hy iets anders daaruit gehaal wat jy dalk gedink het, maar hy kon iets daaruit haal wat vir hom tot voordeel is en dit is tog immers die rede hoekom ons hom in die eerste plek wou help, of hoe?

Toortsie

11 thoughts on “As ons ander help

  1. Hier rond probeer ons almal mekaar help waar ons kan en ons is dankbaar vir alles wat gegee en ontvang word, maar daar is uitsonderinge.Ek raak vies en tree terug op die plek waar ek besef dat die persoon nou van my verwag om te help en dus nie self probeer leer of regkom nie of as die “hulp” elke keer daaruit bestaan dat ek al die werk doen doen en genoemde persoon sit en koffie drink.

    Liked by 1 person

  2. Toorts daar is ‘n tyd om ‘n streep te trek. Jy besef jy het alles in jou vermoë gedoen om die persoon te help maar sy leer nie. Ek noem dit “tough love,” jy staan terug en hoe moeilik ookal sien jy hoe dit al moeiliker met haar gaan. Erens moet sy besef dis haar eie keuses wat haar gebring het waar sy is. Ander gaan nie bly die kastaiings uit die vuur vir haar krap nie. Sy moet leer om verantwoordelikheid vir haar keuses te neem. Jy het nie jou hart en ore vir haar gesluit nie…dit weet sy wel.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!