Om Amazon te betree

Destyds toe my eerste boek, Toortsie se Bantingboerekos gepubliseer is, het ek probeer om by die internetbemarkingsplekke in te kom. Ek wil net bysê vir dié wat dit nie weet nie, ek doen alles rondom die boeke self. Alhoewel, nie heeltemal alles nie. Ek publiseer self. Ek toets self my resepte, kry self die bladuitlêer, betaal self die proefleser, die fotograaf. Ek reël self met die drukkers, keur dit goed, en doen die bemarking self. Ek verpak self elke boek en pos dit uit. Self, self, self, nes ‘n klein kindjie van twee jaar.

Ek dwaal nou heeltemal af van my storie wat ek eintlik wou skryf!

Toe boek een dus in Desember uitkom, het ek internetbemarking nagevors soos wat die tyd dit toegelaat het. My teikenplek om by in te kom, was Takealot. Maar, jy moet minstens TWINTIG titels hê of ‘n omset van ek weet nie hoeveel miljoen as jy daar wil verkoop nie. Of jy moet deur een of ander verspreider werk, maar om by die verspreider te werk, moet jy deur ‘n agent werk, bla bla bla.

Intussen het ek reggekom. Ek het my eie weg gevind.

Tog roep Amazon my steeds. So nou en dan probeer ek by hulle inkom, lees op, vorder ‘n stukkie, dan haal my tyd my weer in. Dit lyk my dis nie iets wat jy gou vinnig doen en kry klaar nie!

Die gedagte wat ek tans mee speel, is om dalk nie weer ‘n hele boek uit te gee nie, dit is nogal regtig duur en alles vir my eie sak. Dis ‘n groot waagstuk en jy weet nie of dit gaan goed werk, of nie.

Ek het die gedagte gehad en toe het Piet Blootvoet dit ook bevestig, om elke resep as individuele ‘e-boek’ op Amazon te verkoop. Ja, ek kan dit eintlik mos sommer verniet op my blog ook weggee, maar daar gaan darem regtig baie tyd, moeite, planne en geld in en ek voel nie om dit sommer net vir die wye wêreld te gee as geskenk nie. Ag, ek gaan seker op die ou end 20 sent per resep kry, maar nou ja!

Nou ja, gisteraand was dit weer ek en Amazon. Eers probeer ek my as ‘n indivudele verkoopsman registreer teen $40 per maand plus kommissie! SKOK! Ek hoop ek het dit betyds gestop gekry!

Uiteindelik het ek by Kindle Direct Publishing uitgekom. Dalk, net dalk kom ek reg. Scrapy vertel van ‘n kursus wat sy gedoen het. Ek gaan hierdie goed nou een vir een bestudeer en ek sal kom vertel hoe ek vorder. Terloops, ek het op Facebook gevra of iemand my kan help, en dit wil vir my lyk of daar nóg mense is wat dit graag wil doen.

O, en in my gesoek het ek op hierdie plek afgekom, vir mense wat dalk blogs wil skryf teen betaling.

Hê ‘n mooi dag.

Toortsie

19 thoughts on “Om Amazon te betree

  1. Ek volg jou beslis met hierdie.

    En dit is waar. Om self uit te gee kos verskriklik baie geld en jy is nie verseker van verkope nie. Ek sit met ‘n boks vol niwe boeke wat ek bestel het en nou verkoop dit nie. Dalk bemark ek nie reg nie. 🤔

    Maar ‘n e-boek is beslis my voorland. Ek sal albei my boeke ook vertaal en in Engels oorsit vir die Amerikaners 😜

    Liked by 1 person

    1. Ek vermoed ek het al weer ‘n afdraaipaadjie ontdek wat ek gaan probeer. Seegogga het vir my die idee gegee.
      Bemark by Bidorbuy.
      So ek verkoop my resep op bidorbuy, ek kry ‘n e-pos en stuur dan vir hulle die skakel na die resep.
      Ek beplan om dan die resepte as individuele geheime bloginskrywings op hierdie blog te maak, met ‘n password. Bestel iemand iets, dan stuur ek die skakel en die password. Die nadeel is natuurlik dat hulle dit dan die hele wêreld vol kan stuur, maar dit is iets om dalk te waag. Dis dalk makliker as Amazon wat eers ‘n tjek stuur as dit $100 is. Hoeveel moet ek verkoop om tot daar te kom en jy kry maar die verkoopprys minus belasting en dan 35% as jy in SA woon.

      Liked by 1 person

  2. DIe Skrywersblad waaraan ek behoort verkoop op Amazon…ek het nog nooit moeite gedoen om uit te vind hoe dit werk nie, maar ek sal nou vir jou uitvind.

    Like

    1. Dankie, Seegogga het nou vir my ‘n baie makliker pad gewys. Bidorbuy. Dit is mos maar Afrikaanse kliënte wat ek het. Daar is so baie kommissie wat afgestaan moet word en nog uitvoerbelasting en ek weet nie wat alles nie.
      So, ek skryf ‘n geheime bloginskrywing op my blog. Ek adverteer dit op Bidorbuy en sou iemand belangstel, stuur ek die skakel en die wagwoord.
      Dis die moeite werd om te toets.

      Like

Gesels saam, asseblief!