‘n Lekker week van kuier op Rebusfontein

Die tafel was gedek, mooi, soos net ons eie Vuurvliegie en haar maters dit kan doen, in egte Towerinstyl. Van kos was daar nie ‘n tekort nie, alles was net van die beste. Ons kon eet en gesels en sommer weer eet. Daar was genoeg dat ons die hele res van die week steeds kon knibbel aan die oorskietkossies. Te lekker.

En het ons gekuier! Onthou, ons het mense daar gehad wat ons al ons lewe lank bewonder. Nou ja, daar was mos ook die mense wat so ‘n bietjie op ons senuwees werk ook.

Eintlik het alles goed gegaan. Dis darem snaaks hoe sekere mense mekaar net aantrek, né. Broodjie het sommer dadelik ingepas by Frannie se Kim Kardashian, Virgo se klompie Kardashians wat daar opgedaag het, die dame van Hartebeespoortdam wat die lewe vir ons eie Una so moeilik maak. Sy het selfs met oom Adolf ook ‘n geselsie probeer aanknoop. Dis net met die 20-jarige Vuurvliegie wat sy nie heeltemal mee reggekom het nie, die konneksie was net nie daar nie, want die 20-jarige Vuurvliegie het eerder by ons ander ingepas. Jonk en pragtig. Wel, ons het die klompie nie lank gesien nie, toe dwaal hulle daar weg saam met die motorfietsryers.

Die tyd saam met my pa was ‘n fees. Onthou, ek het hom twintig jaar laas gesien! Ons het sommer net op die stoep gesit en gesels en oor die vlaktes uitgekyk, mekaar se geselskap geniet. Saans het ons kaggelvuur aangesteek. Hy het my uitgevra oor die mense wat nog hier is, my ma, my broer, ons familie, ons boerdery. Ek kon vir hom vertel wat my pla en nes altyd het hy geweet hoe om my te kalmeer. Ag, en as ek maar sien, loer een van die Towerinne om die hoek om ook ‘n geselsie in te kry. Hy is so ‘n heer en neem nie ‘n geselskap oor soos ek nie. Hy kan so lekker inpas by enige mens. Hy het Seegogga se ma se geselskap ook baie geniet, hulle ken mekaar mos darem en kom van dieselfde wêreld. Ek het vir hom die mooi dubbelbed aangebied en het sommer onder ‘n gehekelde lappieskombers op die sitkamerbank geslaap.

Nou is hierdie towerweek in my verbeelding verby en ek het ‘n hart vol dierbare herinneringe. En as julle wonder, ek hou my nie op met die dooies nie, hierdie het in die magiese Rebusfontein gebeur waar ons klompie Towerinne ons verbeelding vrye teuels gee.

Groete

Toortsie

20 thoughts on “‘n Lekker week van kuier op Rebusfontein

  1. Toortsie, dit was so mooi en wat ‘n wonderlike kuier. En ek kon so vir jou in jou Pa sien, wat’ n voorreg om nie net vir hom, maar julle saam te sien. En jy is reg oor die families K en Broodjie, ou mense was darem slim om daai “sport soek sport” besigheid uit te dink, sowaar raak beskryf. Wat ‘n heerlik fees, ek voel steeds of ek in’ n kos-koma is… 😌🌻

    Liked by 2 people

  2. Dit was regtig n fees. My ma het ook so lekker gesels met jou pa wat ons albei opgeval het, is die towerinne se spsiale individualiteit, maar ook hulle vriendelikheid en liefdevolheid. So spesiaal, so lekker.

    Liked by 1 person

    1. Ons mis hulle darem maar baie, né.
      Ek het nooit oor my pa gedroom ná sy dood nie.
      Toe het ek een nag gedroom. Ek het in ons spaarkamer op die bed gelê en hy het, soos hy altyd gemaak het, by die buitedeur van die vertrek langsaan die weer kom kyk.
      Dit was vir my baie gerusstellend.
      ‘N ander keer het hy my in ‘n swaarkrytyd in my droom gehelp.
      Ek dink dit was omtrent al.
      So ‘n rukkie gelede was hy weer in ‘n droom, maar ek kan nie die detail onthou nie.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!