‘n Hart vol hoop

Ek was lank laas só meegevoer in ‘n boek as met ‘n Hart vol Hoop deur Tessa Afshar. Ek kan die boek net nie neersit nie!

‘n Hart vol Hoop is ‘n lieflike verhaal gebaseer op Lidia, die purperverkoopster, van wie ons in Handelinge lees. Terloops, Lidia was mos die heel eerste persoon in Europa wat tot bekering gekom het.

Hierdie boek is uitstekend geskryf, dit behou my aandag en is ‘n regte ‘page turner’, ‘n omblaaier, jy wil net weet wat op die volgende bladsy gaan gebeur.

Lidia kry te doen met ‘n klomp terugslae in haar lewe, uitdagings wat sy moet in die oë kyk. Sy het egter durf en deursettingsvermoë. Sy aanvaar die uitdagings, selfs al is sy bang, want al ander uitweg is om te gaan lê, wat sy nie wil doen nie.

Die boek is nie soetsappig of ‘n gedweep nie, maar deurentyd is ‘n mens bewus van God se hand op haar, selfs in haar ergste swaarkry, selfs al glo sy nie in Hom nie. Sy voorsiening en beskerming. Deurentyd is daar ‘n goue draadjie van hoop wat haar regop hou.

Ek het nog ver om te lees, maar dinge begin al hoe meer in haar guns te draai.

Lidia is ‘n pragtige vrou wat, op haar eie besonderse manier, haar plekkie volstaan, sy huiwer nie om goed te doen vir ander nie, sy is bereid om hard te werk en maak ‘n sukses in ‘n tyd wat dit vir vroue baie moeilik was om op hulle eie ‘n bestaan te maak.

Lees hierdie boek, jy sal nie spyt wees nie! Dis regtig ‘n inspirerende boek.

Toortsie

7 thoughts on “‘n Hart vol hoop

  1. Jinne Toortsie, jy maak my skoon jaloers met al die mooi boeke wat jy lees. Eendag gaan ek ook baie geld hê om al daai boeke te koop!

    Like

    1. Weet jy, Woordnoot, dis mos nou ‘n groot genade waarin ek geval het toe iemand van CUM my gekontak het om vir hulle boeke te resenseer. Hoekom, weet ek nie? Dalk het ek al genoeg oor boeke geskryf op my blog?
      So, al hierdie wonderlike boeke kom na my toe, dis ‘n present, en ek kan dit dan weer aangee vir die mense rondom my. Ek sou dit so graag wou aanstuur vir die Towerinne, maar die posgeld is maar baie.
      My hele dorp word hierdeur geseën.
      Al wat ek kan sê, is ‘baie dankie’ en dit geniet solank dit gebeur en my beste doen.

      Liked by 1 person

    1. Jy kan dit gerus bestel. Sy is regtig ‘n inspirasie en daar is niks geforseerd of te dik vir ‘n daalder nie. Ek kan met haar assosieer. Sy is ‘n gewone vrou wat ‘n gewone lewe lei, haar bes doen, haar moeilikhede in die oë kyk en deurdruk.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!