Deelname aan VLV-kompetisies

Ek is jammer, maar ek plaas hierdie bloginskrywing weer. Om een of ander duister rede het dit nie op die leser verskyn nie.

Die VLV-kompetisies geniet altyd my volle aandag, nie omdat ek so graag wil kompeteer nie, maar oor die uitdaging daaraan. Die interessantheid daarvan. Vol afwagting maak ek die Februarie Huis en Haard oop om te sien wat die nuwe kompetisie-artikels is.

Vir borduurwerk is dit ‘n stekelap. Dit moet ‘n storie vertel en in drie borduursoorte wees. Dertig jaar gelede het ek ‘n kruisiesteek stekelap gemaak. Drie soorte borduurwerk?

Vir die masjienwerk sien ek tans nie kans nie. Ek kyk eerder na die breiwerk, wat ‘n kantbreiwerk kussingoortreksel is. Interessant. Met my gependel is breiwerk deesdae makliker as masjienwerk.

Die hekelwerk vra twee verskillende Amigurumi diertjies. Wat op aarde is dit?

Dan is daar natuurlik nog weefwerk en kuns en wat nog alles, maar ek het reeds te veel goed wat my interesseer.

Die navorsing begin. Google leer my dat Amigurumi diertjies klein, gestopte gehekelde fantasie figuurtjies is. Dis soos klein skapies, eenhoringdiere, muise, skilpadjies, ens. Dit moet klein en skattige diertjies wees, nie outydse gehekelde speelgoed nie. Opvreetbaar.

Ek begin ook oplees oor verskillende soorte borduurwerk. Weet julle hoe interessant is dit? Behalwe natuurlik die bekende soorte soos kruissteek, sorbellowerk, saamtrekwerk, wat ek natuurlik nog nooit gedoen het nie, leer ek van kantwerk, Brasiliaanse borduurwerk, Skandinawiese borduurwerk, ens. Ek blaai deur boeke, soek by Pinterest, en tussendeur beplan ek aan my borduurstuk. Ek hou my ore wawyd oop vir enige iets wat iemand oor borduurwerk te sê het en is soos ‘n spons wat alles inneem.

Stadig, maar seker, begin my prentjie vorm aanneem en raak my kreatiwiteit los en raak ek net meer en meer waaghalsig. Ek vra raad by die kenners, ‘n tannie moet my beskerm teen myself dat ek nie weer heeltemal oorhoeks gaan nie. By die samekoms van besigheidsvroue trek ek die dame wat borduur nader om vir my raad te gee met die lap.

Intussen het Pinterest agtergekom ek soek borduurwerk en Amigurumi diertjies, en sou ek dit oopmaak, voer hulle my met die mooiste prentjies en patrone.

Of ek dit gaan regkry? Dit sal die tyd nog leer. Of ek sal klaarkom met al my planne, sal ons eers sien in Maart 2020. Maar eintlik maak dit glad nie saak of ek klaarkry met alles wat ek graag wil doen nie, ek weet mos darem ook nou al dat ek altyd meer planne as tyd het.

Wat saakmaak is dat ek die hele jaar hiermee gestimuleer word, dat ek oplees, my kennis verbreed, my kreatiwiteit ontwikkel, vriendskappe smee met die mense wat my raadgee. Dit is nie net ‘n projek van ‘n artikel wat voltooi word nie, dit is ‘n projek van die verbreding van myself, die ontwikkeling van myself, die positiewe beïnvloeding van myself. Want, almal sal dit beaam, dat, as jy jou jou kreatiwiteit toelaat om uit te kom, doen dit jou gees goed.

Vir my gaan dit nie oor wen of verloor nie, natuurlik is dit lekker as my artikel goed doen, maar dit gaan oor die ontwikkeling van myself, die deelname, die lekker interaksie met die ander.

Toortsie

10 thoughts on “Deelname aan VLV-kompetisies

  1. Daarsy, nou kan jy vir Lorenzo ‘n mooi Amigurumi maak 😊 Dit klink alles baie interessant Toortsie, ek wonder nogal wat jy gaan kies. Die “saamtrekwerk” waarvan jy praat, is dit nou smokwerk (“smocking”)? My ma het my altyd vertel van die pragtige handgesmokte rokkies wat haar buurvrou vir my gemaak het toe ek ‘n baba was. Snaaks genoeg, toe Karen ‘n baba was, was die gesmokte rokkies weer hoogmode, maar beslis masjien-gemaak, nie met die hand nie.

    Like

    1. Smokwerk is ‘n afdeling op sy eie. Kom ek fluister vir jou: Tipies Toortsie gaan dit weer ‘n deurmekaarmassa wees. Wanneer die kompetisie in Maart of wanneer ook al klaar is, sal ek mooi kom vertel wat ek gedoen het. Al wat ek vir jou kan sê: As hulle vir my die deur oopmaak en sê daar moet minstens 3 soorte borduurwerk wees, dan kan ek nie by net drie stop nie. Onmoontlik!
      Ek het nou gou gaan soek: Saamtrekwerk is Drawn Thread Embroidery. https://za.pinterest.com/pin/395824254746951431/

      Terloops: ek vertel vir iemand dat ek ‘n sekere soort werk inwerk. Sy vra vir my, wat is dit? Ek sê: O, nee, ek weet glad nie! 🙂 Want ek HET nie geweet nie, weet steeds nie. My dogter sê ek moet maar Youtube video’s kyk. Sy sal my moet leer hoe, so daar leer ek sowaar nog ‘n ding!

      Like

      1. Ek dink daai sin van jou na “terloops” vermis ‘n woord of twee. Oukei, so nou weet ek ook wat saamtrekwerk is. Ek leef op YouTube wanneer ek iets nuuts moet leer, veral as dit kom by gebruik van sagteware, want dis die maklikste demonstrasieles wat jy kan kry. Resepte ook – wys my hoe en ek kan dit ook doen. Jy moet dit dalk oorweeg vir jou Bantingresepte – dis makliker as om ‘n boek te publiseer en jy kan geld maak daardeur.

        Like

          1. Hoeveel van die $1 dollar gaan in jou sak beland? Mense is boonop deesdae lui om te lees. Ek het gedink jy moet ‘n video maak terwyl jy besig is om die gereg voor te berei. Op YouYube kan jy die resep in skrif bysit onderaan die post, maar die video self kan ook wys watter bestanddele jy gebruik. Dan kan jy Google Ads laat plaas (jy doen dit mos op jou blog) en hulle betaal jou vir elke view of impression. Jy het mos al vir tv gekook – nou kook jy vir ‘n video. En bemark banting. Presies hoe jy dit doen, weet ek nie. Ek doen nie bemarking nie. Maar ek weet daar is baie leesstof (kykstof) daaroor op Google. Ek het ‘n rukkie gelede gelees dat die jong meisietjies spanne geld maak op YouTube deur te wys hoe hulle grimering aanwend, of danspassies uitvoer.

            Liked by 1 person

            1. Ek sal bietjie kyk. Ek betaal kwansuis daarvoor dat daar NIE advertensies op my blog kom nie. Mens moet regtig derduisende besoekers, verkieslik van Noord Amerika af, kry voor jy iets verdien.

              Liked by 1 person

  2. Xis altyd so lekker om kreatief te wees en daar haal ek al jare lsnk my hoed vir d vlv af. My ma was jare gelede lid en ek wil ook graag wees maar y tyd laat dit tot dusver nog nie toe nie.

    Like

    1. Seegogga, die VLV het baie vernuwe en is regtig ‘n baie lekker organisasie om aan te behoort. Dis ‘n klomp lekker, vrolike, kreatiewe vroue en hulle bied regtig baie interessante vergaderings aan. Die volgende vergadering is DV 4 Junie. Dalk kan jy dit maak?

      Like

Gesels saam, asseblief!