My reg om te kies, of nie

Sommer so met gister se verkiesing in my gedagte en my reg om te stem of nie te stem nie, net soos ek graag wil, ons woon mos in ‘n demokratiese land waar ons self kan besluit of ons wil deelneem of nie, dink ek sommer net ‘n bietjie en skryf neer wat ek dink.

Ja, ons het ‘n reg om deel te neem aan die verkiesing, of nie. Nee, niemand mag ons boelie om te loop stem nie, veral nie vir ‘n party waarvoor ons nié wil stem nie.

Maar sê nou net dat my stem die beslissende stem was en ek het nie gaan deelneem nie?

Soos verlede jaar wat ons tak by die VLV met een punt tweede gekom het. Al wat nodig was, was dat ek die moeite gedoen het om een artikel meer in te skryf, of my halfklaar artikel voltooi, of my klaar artikel wat ek dalk gedink het nie goed genoeg is nie, in te gee. Dis al.

Of soos die skool, iewers waar ek nou nie meer weet waar nie, wat een keer letterlik gekaap deur ‘n minderheidsgroep wat ‘n totaal ander beleid en siening gehad het as die oorheersende groep. Met die beheerraadsverkiesing het die minderheidsgroep ‘n klompie kandidate ingeskryf. Almal het tog geweet dat oom Piet weer verkies sou word, daar sal mos genoeg mense wees wat vir hom gaan stem, so, hoekom moeite doen om te gaan stem? Te wyte aan hierdie apatiese houding van die oorheersende groep, is daar toe te min stemme vir hulle kandidate en genoeg stemme van die minderheidsgroep. Minderheidsgroep neem die beheerraad oor, stel ‘n ander skoolhoof aan en vervang van die onderwysers en voor hulle hulle oë kon uitvee, was dit ‘n ander skool met ‘n ader karakter en hulle kon niks daaraan doen nie.

Dieselfde het met ‘n kerk gebeur wat ‘n verandering in beleid moes instem. Die meerderheid mense het saamgestem met die verandering, maar daar moes ‘n sekere persentasie meerderheid wees om dit goed te keur. Die meerderheid stem toe vir die verandering, maar een stem te min om dit te implimenteer. Sê nou daardie een stem was myne?

Of, jare gelede was daar ‘n sangkompetisie op televisie waar die publiek ook hulle stem kon uitbring. Daar was ‘n man wat vreemde musiek gemaak het, maar die harte van die mense gesteel het. Almal het geweet hy is nie pryswennermateriaal nie, maar daar sou mos genoeg stemme vir die voorlopers wees, kom ons stem sommer vir die lawwigheid vir hierdie ou, net om hom nog ‘n week of wat in die kompetisie te hou. As gevolg van hom wat ‘n klomp stemme kry, word die stemme tussen die voorlopers anders verdeel en die voor die hand liggende wenner val uit die kompetisie uit.

Wanneer alles glad verloop, maak dit dalk nie saak of ek my deel gedoen het, of nie. Dis egter wanneer die pendulum teen my guns swaai en ek tog ‘n verskil kon maak, en ek dit eers besef wanneer dit te laat is, wat dit maar sleg is.

Kom, laat ons skouer aan die wiel gaan sit.

Toortsie

8 thoughts on “My reg om te kies, of nie

  1. My punt ook, as jy n stem kan uitbring, gebruik dit al is dit nie altyd maklik nie. Ek is so jammer dat ons buitelandse burgers nie meer die reg het om te stem nie. Dis vir my sleg want ek het altyd gaan stem. Ek doen dieselfde hier, as daar gestem moet word doen ek dit. Dis soos jy se, daardie een stem kan n hele omwenteling veroorsaak.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s