Towerinstraat 5, Rebusfontein, #MiddelManzi

Sjoe! Dis nou opwindend! Hier ry ons, die Rebusfontein Towerinne, sowaar stadig op ‘n ossewa in Towerinstraat af en by elke huisie word een van die honorêre inwoners van die afgeleë dorpie afgelaai. Al wat jy hoor, is die klank van die wiele op die gruis. 

Myne is nommer 5, maar sommer van ver af kan ek hom al uitken met sy bloedrooi voordeur en die potte vol malvas wat vol in die blom staan. My spesiaal uitgesoekte Bali-eend wag my in.

Toe laai hulle my af. Ek druk so in die verbyloop ‘n spekboomblaartjie in my mond. Vol afwagting stap ek die twee trappies op en maak die deur oop. Die bloed in my are bruis van opwinding, alles is splinternuut. Die vlinders baljaar in my maag. Vir ‘n oomblik is hierdie babbelkous doodstil, ongelooflik, maar die reine waarheid!  

Ek bly vir ‘n oomblik lank net daar in die rooi deur staan en ek kyk en kyk en kyk, want, behalwe vir die oopplanhuisie met sy pikante kombuis en gesellige sitkamer, is al die glaspanele aan die stoep se kant oopgeskuif en kyk ek oor die mooie vlaktes so ver as wat my oë kan sien! Iewers, Hier gaan ek nie vasgevang voel nie. Vurige Vuurvliegie kon nie ‘n beter huisie vir my kies nie! 😱

Iewers, in een van die Towerinne se tuine, staan ‘n pergola, te pragtig. Ek weet nog nie wie se huisie dit is nie, maar ek kan sien dat dit ‘n pragtig versorgde tuin is. 

Die hele huisie is wit geverf, so met ‘n effense grys skynsel, ‘Arniston White’ noem hulle dit. Spierwit kaste in die kombuis met ‘n lekker gesellige tafel in die middel. Natuurlik wil ek nie heeldag staan en kosmaak terwyl ek daar is nie, maar ons moet mos darem soms eet ook, of hoe? Die kombuistafel het ‘n vrolike tafeldoek oor en die stoele is elkeen in ‘n ander kleur geverf. Op die tafel lê die beplanning van ‘n borduurstuk vir volgende jaar se VLV, en ek hoop die Towerinne sal my ‘n bietjie raad kan gee hiermee.

Die sitkamerbanke is ook in vrolike bont oorgetrek, met laslappiestrooikussings in dieselfde kleurskema. Daar lê ‘n halfgebreide trui op die koffietafeltjie. ‘n Klavier staan sowaar teen die een muur en daar lê ‘n kitaar op die bank. Hier gaan ons sing saans, hoor! Perdebytjie sal moet help musiekmaak.

Uit hierdie groot vertrek loop net een slaapkamer met die badkamer en ‘n aparte toilet. Dubbelbed, natuurlik, vir wanneer manlief kom kuier en oor die bed lê die mooiste, kleurvolste, gehekelde lappieskombers. ‘n Bad vir my vir lekker lank lê, wat meer wil jy vra?

Ek gaan staan ‘n oomblik by die klavier, ek móét hom darem net gou eers voel en wat sal ek sien lê op hom? My Andrew Lloyd Webber boek wat al weg is sedert ons trek! Hoe, op aarde, het hy híér gekom? Dadelik slaan ek dit oop en begin speel: ‘Close every door’.’ Gelukkig hoef ons nie hier ons deure te sluit nie, of hoe? In herinnering aan ons heerlike reise saam met die Towerinne, speel ek nog sommer Memory ook. Die blues hou ons vir later, vir wanneer ons huis toe verlang. 

(Ek wil iets vir julle fluister, maar julle moenie oorvertel nie, hoor: Lekkervurig het ‘n hond, Ringo, saamgebring. Daar is iets vreemds aan daardie hond, ek weet nie so mooi nie. Ek is maar ‘n bietjie skrikkerig. O, en ek sien die span motorfietsryers is ook hier in die omtrek. Ek het nog nie die Undertaker gewaar nie, maar julle moet my asseblief betyds waarsku as julle hom sien, ek vertrou hom net mooi niks. Miskien moet ek met Ringo vriende maak, hy kan my dalk beskerm teen sulke onwelkome bedreigings. Die probleem is, sou ek die Undertaker raakloop, sal ek nie kan kan keer dat daar ‘n diatribe by my mond uitspring nie, ek mag dalk net verkeerde goed sê wat groot repurkussies sal hê. Julle weet mos dat ek sulke tye geen selfbeheersing het nie. Aan die ander kant weet al die Towerinne, ‘n groep innige vriendinne, in hulle harte Sigeuners, hoe ek oor hom voel en man en muis sal sorg dat hy van my af wegbly. Wat die Undertaker aanbetref, het ons mos darem al ons les geleer, of hoe?)

Dankie, Lekkervurig, hier gaan ek lekker bly! Sodra Hester die teken gee, gaan ons stap in die veld. Wag, laat ek gou langsaan gaan dagsê en loer of Kameel al ingeburger is. Dan kan ons na Vuurvliegie se huisie stap, daar is glo tee en Bantingmuffins. Sjoe, sy het aan álles gedink!

Toortsie

……………………………….

Volg die storie by https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66cceced1?visitor3


42 thoughts on “Towerinstraat 5, Rebusfontein, #MiddelManzi

  1. Moes verwag het buurvrou Toorts gaan met ‘n vaart wegspring. Daardie pragtige pergola is myne…wou van kleintyd af so ‘n tuin hê. Jou huisie klink huislik….sal heelwat kom inloer…maar dan weer die bybel sê jy moenie ‘n ander se drumpel deurtrap nie 😄

    Liked by 2 people

    1. Dis darem al twee dae later, ek is verbaas dat niemand nog gereageer het nie. Sies tog, hoe moet die arme vuurvliegie voel as ons almal doodstil sit en wag?

      Like

  2. Ooooo dis te heerlik. Ek kannie wag om jul almal weer te sien nie. Ek is besig om aanlyn te organiseer om darem n slaapplek in my huis te kry as ek daar verby kom. Ek kon nie die eerste ossewa “vang” nie want die vuurpyl skedules het verander en toe is die lyne nog dood ook en kon die pyl nie Suid Afrika kry nie. Die moderne tegnologie het ook maar sy probleme al dink die meeste mense dis te wonderlik

    Liked by 2 people

  3. Die musieklike huisie in die dorp. Moes geweet het dit is joune Toortsie. Jou huisie klink net reg vir jou. En al die mans wat so saamkuier – uhm, die Towerinne sit dan glo rond in hulle pajamas. Gelukkig is dit winter en alles is mooi bedek. Die motorfietsbende ook daar. Natuurlik agter Frannie aan. Is Broodina ook genooi?

    Liked by 2 people

      1. Nee, sy’s nie elders nie. Vuurvliegie het gesê sy het daar in die skare saam met die motorfietsbende in Rebusfontein gestaan. Ek hoop net nie sy eis ook ‘n huis op vir haarself en word ‘n permanente inwoner nie.

        Liked by 2 people

            1. Kameel, elk het ‘n regte Broodina in my lewe. Al wat ek kan sê, is, hou maar jou ogies oop. Die Broodinas et ook goeie punte, hulle is nie net sleg nie, maar regtig, wees maar wakker.

              Liked by 1 person

  4. Waars jy, Toortsie? Ons is hier vir middagete, het net ons eie drinkgoedjies saamgebring. Oe, jou huisie is pragtig! En voor ek nou vergeet, die Undertaker is daar by die straatkiosk, hy sê hy kom nou-nou ñ draai maak.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!