‘n Heerlike verrassing

Ek kry gewoonlik ‘n boodskap van die koerier af as ‘n Cum-boksie op pad is. Vanoggend kom ek by die plek waar die pakkies gewoonlik afgelaai word en sowaar, daar lê ‘n Cum-boksie!

Wat ‘n heerlike verrassing!

Natuurlik kon ek nie wag tot ek by die huis kom om dit oop te maak nie, hul moes net daar vir my ‘n sker leen om die pakkie oop te maak. 😊

Kyk ‘n bietjie hier:

Hierdie drie boekies lyk vir my baie oulik. Daar is afdelings, soos bemoediging, dankbaarheid, vreugde, wysheid, ens, met gepaste Bybelverse by elkeen.

As ek dink hoeveel my man die Bybelbeloftes vir elke man geniet wat ook in hierdie lyn is, kan ek net dink hoe waardevol hierdie boekies kan wees.

Breek vry van jou verlede het my net so opgewonde. Hier is regtig so baie trauma in die wêreld, dit voel vir my dit raak net erger. Ek glo dat dit ook vir baie mense tot nut kan wees.

Ek wil sommer vandag vir julle vertel hoeveel seën hierdie Cun-verrassingsboksies bring. Natuurlik is dit vir my heerlik om die boeke te lees, dit beteken vir my baie en ek lees nou aansienlik meer as wat ek normaalweg lees. Dit verryk my lewe.

Dis egter nie net my lewe wat hierdeur verryk word nie, maar soveel ander s’n ook. Wanneer ek klaar is met die boeke, deel ek dit sommer uit waar ek kom. By die bybelstudie het ek nou die dag ‘n ‘blessings’-boksie gehad waarin van die boeke was, asook van die seëningekaartjies. Elke boek het in die regte hande beland en die kaartjies is regtig ‘n treffer. Die meeste van alles het ek die vreugde op elkeen se gesigte geweldig geniet. Blink ogies net waar jy kyk.

‘n Ouma kon vir haar kleindogter die Doodledagboek vir meisies kies. Die vrou wat baie uitreikwerk in die gemeenskap doen, kan weer baie put uit Lysies vir die lewe.

Gisteroggend in die kerk kry ek ‘n duidelik opdrag dat ek vir die man wat voor my sit, een van die manskaartjies moet gee. Ek trek een uit die boksie en lees wat daarop staan: Die mooiste seënwens! Die gesigsuitdrukking van die ontvanger was prysloos. Hoe weet ek of hy nie dalk juis dit op daardie oomblik nodig gehad het nie?

Dankie, Cum, vir hierdie wonderlike seën wat jy sommer oor my hele dorp uitstort. Die seën spoel baie wyer oor as wat ‘n mens kon verwag.

Toortsie

#leesmetgees

#leesmetgees is ‘n inisiatief van Wolfie.

4 thoughts on “‘n Heerlike verrassing

Gesels saam, asseblief!