Bruce Wilkinson se boeke

Op ‘n stadium was ek ‘n Bruce Wilkinson entoesias. Ek het sy boeke behoorlik verslind.

Ons almal onthou Jabes se Gebed. Wat ‘n boek was dit nie! Skielik het ‘n onbekende versie in die Bybel in ‘n gedeelte wat ‘n mens nie maklik lees nie omdat dit net lyste en lyste name is, een van die bekendste versies in die Bybel geraak. (1 Kron 4:9-10) Die Engelse weergawe, The Prayer of Jabez, is steeds by CUM boeke te koop.

‘n Boekie wat vir my selfs meer beteken het, was Die Geheimenis van die Wingerdstok. Wilkinson bekyk in hierdie boekie die storie van die wingerdstok in Johannes 15. Ons hoef nie ‘n lewe van middelmatigheid te lei nie, maar een van oorvloed, waar jy vrug kan dra tot Sy eer. Dit lyk my nie hierdie boekie is meer beskikbaar nie, dalk by ‘n tweedehandse plek?

‘n Lewe wat God beloon, was die derde boek in hierdie reeks. Hier noem Wilkinson iets wat ons amper nie hardop wil sê nie, dat God Sy kinders beloon en dat dit wat ons vandag doen, vir ewig saakmaak. Ek kon ook nie hierdie boekie nou meer raakloop nie.

Die Droomgewer, net so ‘n topverkoper, het ons uitdaag om ‘n treetjie buite ons gemaksone te beweeg, en wanneer ongemaksone weer gemaksone begin raak, die volgende stap te neem buite die nuwe gemaksone. Weer eens het Wilkinson dit reggekry om dit Toortsie te motiveer tot groter geloofspronge, om te waag.

Alhoewel die boeke wat ek hierbo bespreek het, nie meer nuut te koop is nie, wil dit vir my lyk, is hulle wel almal by Bidorbuy beskikbaar.

Toe ek vandag in die Cum-boksie kyk vir ‘n oulike boek om te lees, lê daar sowaar ‘n Bruce Wilkinson boek: Bevryding van Angs en Bekommernis. Ek het dadelik begin lees en die boek het my sommer dadelik geinteresseer, en ek is maar nog net by die inleiding! Moet egter nie bekommerd wees nie, ek kom vertel vir julle binnekort meer. As jy nie so lank wil wag nie, kan jy by CUM inloer en die boek solank kry daar.

Indien jy belangstel in al die boekbesprekings wat ek doen, kan jy by Pinterest loer, of ook hier by my blog.

Groete

Toortsie

8 thoughts on “Bruce Wilkinson se boeke

    1. Sy boeke lees baie lekker. Die inleiding was baie oulik en ook vol inligting. Nou volg daar die 20 situasies wat wêreldwyd die meeste angstoestande veriorsaak. Dit word dan ligweg bespreek en dn volg daar ‘n paar tekse en ‘n gebed wat jy in daardie situasie kan bid. Oulik.

      Like

Gesels saam, asseblief!