Die gesprek

Ek is nou al vir dae lank in ‘n ernstige gesprek met ‘n man wat nie bestaan nie.

Die man, wat, soos ek gesê het, nie bestaan nie, is redelik groterig van lyf en postuur. Die rede hoekom ek met hom in gesprek is, is omdat hy, wat nie bestaan nie, aan ons deur, wat wel bestaan, dis ‘n wynrooi deur, terloops, ‘n breë deur, rolstoelvriendelik, weet jy, kom klop het.

In elk geval, hy kom klop toe aan ons wynrooi voordeur en kom spreek sy misnoë uit oor ons lieflike groentetuin en die baie water wat ons daarvoor gebruik en dis mos maar droog in die Kaap, julle weet mos.

Ek vra hom wat hy doen om die droogtesituasie te probeer red en ja, hulle vang ook hulle stortwatertjies op. Ek vra hom wat hy voorstel ons moet doen?

Ek kan nie dink dat hy iets geantwoord het nie, aangesien hy nie regtig bestaan nie en ek maar die een is wat heeltyd praat.

Toe nooi ek hom om saam met my te stap en ek wys hom dat ons ons dakwater opvang vir huishoudelike gebruik en die res van die dakwater, asook gryswater vir die tuin.

Ek sê dat hy nou ‘n hele klomp energie onnodig verbruik het om oor ons bekommerd te wees, plaas dat hy daardie energie gebruik het en sy gryswater aangelê het tuin toe en self ‘n lieflike groentetuin aangelê het om vars, gesonde, organiese groente te verbou sommer daar in sy voortuin.

Nou ja, toe besef ek ek mors sowaar my energie met hierdie ou man, dat hy my nie eers kom aanspreek het nie, en dat dit nie enigsins ék is wat so oulik is om die gryswater te herlei tuin toe nie, maar my man, en dat dit ook nie ek is wat die groentetuin maak nie, maar ook my man en ek dink, plaas dat ek loop skoffel het in die tuin, dan sou ek nie vir dae aaneen nonsens gepraat het en dit met ‘n denkbeeldige ou man nie!

Toortsie

24 thoughts on “Die gesprek

  1. Dis interessant dat jy die man eintlik so ‘n bietjie teregwys, maar hy is reg – waterbesparing is belangrik. Ons het ook in die droë deel van die wêreld waar ons gewoon het, allerhande planne gemaak om water te bespaar.

    Liked by 2 people

    1. Ja, maar ek glo regtig dat ek minder water gebruik met my bad. Daar gaan soveel water verlore solank die eerste koue water uitloop. ‘N mens vang dit wel op met ‘n emmertjie. Ek gooi min water in die bad en lê ‘n halfuur daarin. 😊

      Like

Gesels saam, asseblief!