Gaan ek gewig verloor?

Ek kry interessante navrae en geniet elkeen van hulle. Gereeld vra iemand vir my in hoe ‘n lang (of kort) tyd ek die gewig verloor het wat ek met Banting verloor het. Dit voel soms vir my asof dit vir die mense ‘n aanduiding is of hulle ‘reg’ verloor.

Nee, mense! Daar is GEEN ooreenkoms tussen twee mense se gewigsverlies nie. Ons almal verskil. Ook wat Banting aanbetref.

Ons liggame reageer almal verskillend op dit wat ons inneem, en, terloops, ek kry soveel keer ‘lesings’ hieroor van goedbedoelde mense wat net vir my wil laat besef dat ons almal verskil. Ek weet ons almal verskil.

As ek dit reg verstaan, is Banting nie in die eerste plek ‘n gewigsverliesprogram nie, maar ‘n gesondheidsprogram. Baie mense doen dit om gewig te verloor, met goeie resultate, maar ander het weer nie dieselfde resultate nie, dit hang van persoon tot persoon af.

Wanneer ons ons eetplan so drasties verander soos met Banting, gebeur daar baie dinge in ons liggaam. Ons metabolisme verander totaal, veral as ons voorheen ‘n koolhidraatryke laevet dieet gevolg het. Ons liggame begin om ander hormone af te skei. Dit moet aanpas by die nuwe eetplan.

Sommige mense tel selfs gewig op in die begin.

Dit is ook nie ‘n uiters maerword dieet nie. Ek het met Weigh Less en Weight Watchers baie maerder geword as wat ek met Banting geword het. Die verskil is, met Banting kon ek nou al vir 4 jaar en 9 maande daarmee volhou, wat ek nie met die ander eetplanne kon doen nie. (Ek het 18 kg verloor.)

My gewig het nie soos ‘n glyplank die heeltyd afgekom nie. Inteendeel, ek was met Banting al maerder as wat ek tans is. Daar is maar altyd ‘n twee kilogram speling wat my gewig op- en afgaan. My gewig stabiliseer altyd op ‘n sekere plek. Verlede jaar, egter, het ek skielik ‘n paar kilogramme opgetel wat veroorsaak het dat my klere nie so gemaklik gesit het nie, ek dra nou al vir jare dieselfde nommer.

Ek vermoed dat die gewigstoename te wyte was aan ‘n reeks kortisooninspuitings wat ek gekry het. Dit was of ek pofferig was. Ewe skielik, uit die bloute, verloor ek daardie ekstra kilogramme amper oornag en nou het ek weer ‘n kortisooninspuiting gekry, en my gewig het dieselfde gebly. Vreemd.

Ek het nie die antwoorde nie. Al wat ek weet en waarvoor ek dankbaar is, is dat ek volgehou het met my eetplan soos altyd. Ek het niks verander nie en steur my nie daaraan as ek ‘n kilogram of wat optel nie, iewers verloor ek dit weer.

Vir my gaan dit nie net oor die gewig wat ek verloor het en af hou nie, dit gaan daaroor dat my cholesterol en bloedsuiker heeltemal onder beheer is, dat ek voorheen Metaboliese Sindroom gehad het, wat nou nie meer die geval is nie.

Vir my werk Banting, soos ek al hoeveel keer gesê het. Ek kan egter nie waarborg of dit vir jou ook sal werk nie, maar as jy totaal oorgewig is, vetsugtig, ‘morbidly obese’, aan suiker verslaaf is, alles wat jy sien in jou mond wil druk, aan kos verslaaf is, mag Banting dalk net vir jou ook die antwoord wees. En soos ek altyd sê, praat net eers met jou huisdokter hieroor as jy oorweeg om dit te volg.

Groete

Toortsie

13 thoughts on “Gaan ek gewig verloor?

  1. Wyse woorde…elkeen se liggaam reageer anders.
    Manlief het nou in drie maande 12k verloor, deur net vrugte groente en min proteïne soos kaas en maer vleis te eet. Koolhidrate soos artappels en provitas was ook deel van sy etes. Verder oefen hy ses dae ‘n week in die gym. Ek dink die groot ding is dat hy geen bier of wyn, coke en sulke drankies oor sy lippe laat gaan het nie. Hy het besluit om aan te hou so eet. Dis nou ‘n lewenswyse en hy is nooit honger nie.By sy jaarlikse mediese ondersoek, het die dr gesê hy is supergesond.

    Liked by 1 person

  2. My seun het ‘n mens se gewig verloor in ‘n jaar se tyd. Hy eet niks wat onder die grond uit kom nie, geen stysels nie en baie vet vleis. Volgens sy dieetkundige kan vet jou nie vet maak nie, net die teenoorgestelde. Ek dink hy het sowat 60kg in jaar verloor., Dink sy tipe eetwyse word Ketogenies genoem.

    Liked by 2 people

      1. Soms vat dit vaie kank voor iemand begin gewig verloor met Banting. Daar gebrur eers ‘n paar goed in die liggaam. Ek het bv 4 kf verloor die eerste week, net om weer stil te staan vir ‘n week of 2, dan weer kg af, ens.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!