Finnige Frikkie

Ek weet Finnige word eintlik met ‘n V geskryf, maar hierdie Frikkie is regtig Finnig, daarom Finnige Frikkie.

Die waarheid is, dat Frikkie eintlik baie skaam is, glad nie vinnig waar dit meisies aangaan nie. Ag, en hy wil so graag ‘n ou meisiemaatjie van sy eie hê. Ai tog, hy is net so vol fiemies, ‘n mens kan amper nie met hom huishou nie. Met elke liewe meisie wat iemand aan hom wil voorstel, sien hy fout.  

Een dag, dit was ‘n Vrydag, sien hy ‘n fraaie vroutjie en besluit net daar om vir haar flikkers te gooi. Sy het hom regtig stief behandel, só stief dat hy besluit het om dit maar eerder te los. Eintlik wou hy sê, ‘fonteintjie, uit jou drink ek nie weer nie’, maar sy pa het altyd gesê ‘n mens weet nooit, jy mag nie so sê nie, en nooit is ‘n lang tyd, hoor!

Die rede hoekom sy so snaaks met hom was, was nie omdat sy nie van hom gehou het nie, die liewe Fredelina. Die ding was dat hulle familie was van Adam se kant af, en sy is bang vir ‘n introuery, die oumense het altyd gesê ‘n mens moet versigtig wees. Al het sy eintlik baie van hom gehou, moes sy maar sterk wees. Aan die ander kant sê tannie Ella dat hierdie konneksie al so ver is, dit sal nie meer saakmaak nie. Die Bybel sê mos dis net broers en susters wat nie mag trou nie, niggies en nefies mag, en Fredelina en Frikkie is baie verder familie as dít, blykbaar agter-agterkleinniggie en neef.

Maar ja, die kys is nou uit, maar wie weet wat die toekoms inhou en of Frikkie weer uit die Fredelina-fonteintjie sal drink?

Idiome met ‘n F.

Toortsie

13 thoughts on “Finnige Frikkie

Gesels saam, asseblief!