Nog eende en al daardie derglike dinge

Terwyl ek nou oor eende praat en probeer om nie die dam onder die eend uit te ruk nie, voel ek wel om so te doen. ‘n Mens kan praat en praat en praat, maar vir party ouens is jou gepratery net soos water op ‘n eend se rug, maar na die tyd sal hulle hulle skouers in onskuld ophaal en die skuld op iemand anders plaas. Plaas dat hulle besin eer hulle begin, maar luister sal hulle nie.

Dis soos om jou geboortereg vir ‘n pot lensiesop te verkoop, sinneloos, as ek my opinie mag gee, maar soms het jy eenvoudig nie ‘n keuse nie en moet jy eerder tevrede wees met ‘n halwe eier as ‘n hele dop. Dit is natuurlik so dat erfgeld swerfgeld is, en as jy nou nog die elmboog lig so saam met die swerwery, mag dit gou wees dat Jy net mooi met niks sit nie en begin terughunker na die vleispotte van Egipte, maar soos almal maar baie goed weet, is dit dan heeltemal te laat.

Die probleem is, skoonheid vergaan, maar deug bly staan en al is jy nou ‘n lelike eentjie, maar jou verstand gebruik, kan jy baie ver in die lewe kom as jy wil, want sukses het niks met skoonheid te doen nie. Natuurlik kan die mooies onder ons ook suksesvol wees, veral as hulle hulle verstand gebruik.

Maar so van die os op die jas, in hierdie eeu van korrupsie en moeilike ekonomie, moet ‘n mens wakker wees en jou talente behoorlik benut, mooi werk met jou geld, en soms selfs die eierdans uitvoer, en as jy jou kant gebring het, goeie besluite geneem het, na goeie raad geluister het en as die natuur en die genade met jou was, kan jy dalk tog heelhuids anderkant uitkom.

Terloops, as jy dalk net wonder hoekom die Toortsie nou weer sulke nonsens babbel wat glad nie sin maak nie, dit was deel van haar poging om idiome met ‘n E te gebruik. Genadiglik was Mieliestronk byderhand om haar te help. Persoonlik dink ek dit sal tog dalk maar goed wees as Toortsie wel besluit om haar kop te laat lees.

Groete

Toortsie

18 thoughts on “Nog eende en al daardie derglike dinge

    1. En dan kom F 😳. Sien ek jou vanjaar by Capital Singers? Dít is ‘n uitdaging op sy eie vir ‘n boervroutjie uit die verre Overberg. Ek sal moet kaalvoet oor die Drakensberge om daar uit te kom.

      Liked by 1 person

      1. Ek seg mos nou net jy skrik nie sommer nie 🥰. Inderdaad, ek hoop om hierdie keer te gaan en die nuwe venue te beleef. Desember is baba mos gebore, later as wat ons gedink het. Ek was nog in die Kaap toe daar gesing is

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s