Wat is in my yskas

In hierdie blogland is alles waaraan jy kan dink, al ontbloot, selfs ons slaapkamers. Nou is Hester nuuskierig. Sy wil weet wat in my yskas aangaan. Op die oomblik gaan daar natuurlik niks aan nie, ek is op die pendelpad en alles is ingepak.

Ek is mos ‘n Banter, soos almal mos darem regtig teen hierdie tyd al weet! 😊 Sou jy dit nié weet nie, sal my yskas dit verklap.

Ek gaan slegs een keer per week by ‘n winkel toe, omdat ek mos steeds baie op die plaas is, maar ook omdat dit een van die grootste besparingsmetodes is. Deur slegs een keer per week winkel toe te gaan, spaar jy op kilometers brandstof, maar op soveel ander maniere. Deur so te koop, is ek ook redelik gereed vir enige onverwagte gebeurtenis en hoef dan gewoonlik nie haastig winkel toe te moet jaag nie.

in my yskas is heelwat suiwel, en natuurlik geen laevet items te bespeur nie. Daar is botter, room, kaas, roomkaas, fetakaas. Ek het ook pakkies ham, salami en ryp avo’s daarin.

Die paar vrugtetjies wat ek daarin het, is bessies en kiwivrugte.

Daar is ook botteltjies inmaakgoed, soos Banting kerriebone, peppadews, soetsuur appelkosies, tamatie relish en allerhande botteltjies wat ek omtrent nooit gebruik nie.

Daar is sowaar ‘n rak vir eiers! Dosyne eiers!

Die res van die yskas het groentes soos kopkool, tamaties, komkommer, halwe butternut, boontjies, ens.

Iewers kan ‘n bakkie oorskietkos lê of ‘n bak koolslaai wat ek vir die week gemaak het.

In die deur is tamatiesous, mayonnaise, volgraan mosterd, ens.

As bederfie is die kans baie groot dat daar een of ander Bantingsoetigheid in is, ‘n tert of kaaskoek.

Hester vra ook vir ‘n resep, nogal.

500 g volroom roomkaas

500 ml room

1 pakkie (20 g) dieetjellie

Meng roomkaas en room in voedselverwerker tot glad.

Smelt die dieetjellie in ‘n koppievol kookwater. Meng dit in by die roomkaasmengsel.

Skep dit uit in tertbak en plaas in yskas om te stol.

Groete

Toortsie

Kyk by Inlinkz wat die ander in hulle yskaste het. Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is https://fresh.inlinkz.com/p/f651aca5342f4bb9afec003e5aab6321

Het jy ook lus om te skryf oor jou yskas se inhoud? Doen dit gerus en sit jou skrywe op by Inlinkz.

16 thoughts on “Wat is in my yskas

  1. Dit klink sommer vrek lekker.

    Ek stem saam oor die een maal per week winkel toe gaan. Ons het ook nou hierdie maand so begin maak omdat ons elke rand nou moet omdraai vir die pad vorentoe. Ons stel ‘n bedrag per persoon vir die maand en dan deel ons dit deur die weke en elke Maandag gaan ek winkel toe en koop als wat nodig is vir die week se kos vorentoe. Ons spaar goed, want nou koop ons ook nie onnodige goete meer nie.

    Like

    1. En wat ook gebeur is dat ‘n mens dan soms gedwing raak om slim planne te maak met minder lekker bestanddele in die kas. ‘n Mens is geneig om die lekkerder, duurder, goed eerste te wil eet. Jy raak kreatief. En daar is nie elke dag ‘n ‘bederfie’ in die waentjie wat optel na ‘n groot bedrag nie.

      Liked by 1 person

      1. Dit is die waarheid! Daarom voordat ek winkel toe gaan maak ek ‘n lys van wat ek nog het en pas dan ons etes vir die week daarvolgens aan. Sover het my kinders nog elke aand hul kos geëet so ek kla ook nie. 😉

        Liked by 1 person

    1. Ja, en al die rykgoed moet ongelukkig in die yskas wees. Ek het nie eintlik noedels en rys en aartappels en sulke goed in kaste nie. My kos is meestal in die yskas. 🙂 Moenie vir jou yskas jammer kry nie, hy pas in by jou leefstyl.

      Liked by 1 person

  2. Daarsy, nog ‘n lekker yskastert-resep. Dankie Toortsie. Ek hou van ‘n vinnige resep wat nie baie dinkwerk verg nie. Ons doen ook net eenkeer ‘n week inkopies, maar stap dikwels na die padstalletjie toe vir ekstra vrugte, brood of volroom melk. Ek hou egter nie bestanddele vir soetgoed aan nie en dit moet ek spesiaal gaan koop, want die volroomkaas en room sal stilletjies voete kry voordat ek ‘n tert kan maak.Ek is die dieetpolisieman.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!