‘n Dam onder ‘n eend, of so iets

Laat ek nou sommer met die deur in die huis val, laat ek dit sommer prontuit sê: Ek het totaal vergeet van hierdie idiome-uitdaging wat ek myself opgelê het!

Moet egter nie bekommerd wees nie, ek sal nou nie die dam onder die eend uitruk en ‘n kabaal opskop nie, om die waarheid te sê, ek hoop ook nie een van julle doen dit en dreun my op tot by oom Daantjie in die kalwerhok nie, iets wat ek natuurlik dubbel en dwars verdien as ek met so ‘n loskop rondloop!

En net, indien jy dalk dink om so iets te doen, maak goed seker wat jou motiewe is, dat dit nie dalk net uit suur druiwe is omdat ek wel onthou het nie. Wag! Ek trek sommer net jou been, hoekom sal jy so iets wil doen en dit om so ‘n rede? Ek steek sommer net die draak met jou.

Sou jy dalk so in die stilligheid gedink het, of selfs steeds dink dat hier van hierdie uitdaging dadels van sal kom, wil ek jou tog waarsku om tog maar weer te dink hieroor. Jy mag dalk verkeerd bewys word. Julle het my nou amper op heterdaad betrap met hierdie storie en ek belowe julle, ek sou eerder tien dode sterf, as dit! Ek is so bang soos die duiwel vir die slypsteen dat iemand my ooit sal uitvang dat ek iets verkeerds doen.

Van dood gepraat, gelukkig is hierdie nie ‘n geval van die een se dood is die ander se brood nie, watter verskil sou dit in elk geval maak as ek sou ophou skryf? Mense lees mos maar hulle wil, nie waar nie? My poging om hierdie uitdaging te doen, is ook nie ‘n geval van eerder dood as uit die mode nie, net vir ingeval jy dalk sou wonder.

Nou ja, gee die duiwel wat hom toekom, ou Toortsie probeer darem weer en julle weet mos, probeer is die beste geweer. Dus, hou duime vas, julle kan wraggies nie sê ek is nog nie droog agter die ore nie, dalk, net dalk kry ek tog oor tyd hierdie uitdaging afgehandel. En met ledigheid wat die duiwel se oorkussing is, moet ek nou dadelik aan die werk spring!

Dankie aan Mieliestronk vir hulle hulp met hierdie uitdaging.

En net terloops, hier word ‘n droom nou waar, Capital Singers het nou net hulle musiek gelaai!

Groetnis

Toortsie

24 thoughts on “‘n Dam onder ‘n eend, of so iets

      1. Dis is. Dit was. Dis heelwat beter sedert ek begin blog het, maar wanneer ek ‘n Afrikaanse artikel of boek lees, besef ek maar te goed hoeveel gevoel vir die taal ek ingeboet het in die dekades wat ek in ‘n korporatiewe pos gewerk het. Alles Engels. Deesdae lees ek Afrikaanse woordeboeke, Afrikaanse blogs en artikels, Afrikaanse taalgroepies op Facebook (groot bron van pret en baie leersaam) – ek lees selfs soms Afrikaanse boeke, maar ek kou swaar aan sommige Afrikaanse skrywers se boeke. Die taal verander en vernuwe en ek gee groot spronge om by te hou.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!