‘n Mamma kontak my oor ‘n toespraak wat haar kind moet maak. Nes die meeste van kinders, nes ek ook was, is die kind in ‘n toestand daaroor. Dis maklik om te babbel met jou beste vriende, maar om op te staan en te gaan praat voor die klas, is nie ‘n grap nie. My skoolmondelinge het baie keer in so ‘n gelag ontaard, ek kon amper nie praat nie.
Oor jare het ek hierdie wenke geleer, en ek hoop dit help ook vir ‘n kind of twee wanneer sy ‘n toespraak moet maak of mondeling moet praat.
Dis makliker gesê as gedaan, maar sy moet ontspan. (Dit is selfs vir my op die ouderdom van 56 steeds moeilik. Dit is menslik om gespanne te wees.)
Eerstens is dit belangrik dat jy goed voorbereid is. Weet wat jy wil sê. Skryf jou eie mondeling, sodat dit wat jy wil sê, uit jou hart uit kom, dan onthou jy dit makliker. As jy jou eie mondeling praat, hoef jy dit amper nie eers uit jou kop te leer nie, omdat die woorde jou eie is en sou jy ‘n ander woord gebruik, sal dit nie saakmaak nie.
Skryf jou mondeling en oefen, oefen, oefen dit. Oefen dit hardop voor ‘n spieël. Vertel vir die persoon in die spieël dit wat jy wil vertel. Praat jou hart uit. Wees oortuigend. Glo in wat jy wil sê. Glimlag.
Die dag van die mondeling? Die mondelingperiode?
Haal diep asem. Haal rustig asem. Weet dat jy dit mos goed voorberei het.
Dan, terwyl jy nog sit, moet jy net rustig wees. Wanneer hulle jou naam noem, moet jy met vrymoedigheid opstaan en vorentoe stap. (Oefen dit ook by die huis.) Onthou, die toespraak begin van die oomblik af wat hulle jou naam noem, terwyl jy nog in die stoel sit.
Dan gaan staan jy rustig daar voor. Kyk vir die ander. Glimlag. Haal diep asem.
Wanneer jy gereed voel, begin jy jou storie. Jy praat klaar, sê dankie (of nie), stap statig terug en gaan sit. En eers DAN stop die toespraak. Dan blaas jy al die asem wat opgebou het uit, kyk vir jou beste maat en glimlag verlig.
Oefen ook die ‘optrede’ by die huis, van die sit in die stoel, die opstaan, die gaan staan daar voor, die praat, die glimlag, die terugstap en die kom sit in jou stoel. Oefen dit, dit gee vir jou selfvertroue.
Sterkte, jy kan dit doen!
Toortsie
Vir nog mondeling/opstelhulp, kliek HIER.