Ek sien

Toe my dogter vyf jaar oud was, het ek hierdie boek vir haar gekoop. Ek sien.

Ek sien ‘n motorfiets, ‘n beursie en tiara, ‘n olifant, ‘n rooi robyn, ‘n lintjie vir jou hare; ‘n skilpadjie, ‘n vingerhoed, ‘n skoen en blaastrompet, ‘n waaier en ‘n strikdas, tien maskers vir die pret.
Ek sien ‘n kietsiekat, ‘n hartjie en vyf blare, wolke, nege sterre en twee poppe met geel hare; ‘n vlinder en ‘n groot wit voël, die golwe van die see, ‘n zebra en ‘n liniaal, ‘n blokkie met ‘n D.
Ek sien ‘n maanhaarleeu, ‘n harlekyn wat lag, en dan sien ek ‘n boerpampoen en katte – daar is ag; ‘n resiesperd en hobbelperd, ‘n skulpie uit die see, ‘n stewel en ‘n sekelmaan en ook die syfer 2.

Dit het ure se genot vir haar, haar boetas, haar mamma en ook haar oupas en oumas besorg.

Die boek bestaan uit groot foto’s, met raaisels waarin items is wat die skrywer sien en ons dan moet soek. Soms is iets diep weggesteek en moet ons behoorlik soek, ander items is baie makliker te vind.

Op die ou end gaan dit oor meer as net die regte item vind, dit gaan oor die saamwees, die aandag wat ouma en kleinkind aan mekaar gee, die nabyheid, want ons moet styf teen mekaar sit as ons saam in die boek soek, die gesels, want soms moet ouma verduidelik wat dit is, nuwe woordeskat, sommer net spontaan wees. Dit gaan oor die afgee van goedvoelhormone, die gevoel van behoort, die gevoel van liefgehê word. Die warmte van mekaar se liggaam voel. Die daarwees vir mekaar. Die gevoel van ek is belangrik.

Ag nee! Hier is dit al weer beurtkrag en ons kan nie TV kyk nie! Aaaagggg! Neeeee! WONDERLIK! Nou kan ons tyd maak vir mekaar. Kwaliteittyd. Liefdevolle tyd.

Hierdie boek sal sekerlik nie meer te koop wees nie, maar ek is seker daar is nog vele soortgelykes beskikbaar. Gaan soek dit en soek daai prentjies. Dis net te lekker.

Toortsie

18 thoughts on “Ek sien

  1. Ek stap eergister in ń winkeltjie in ons dorp in, Tant Grieta se winkel, en daar het sy ń boekrak vol stokou kinderboeke! So oud ek ken van hulle nie eers nie. Een van hierdie dae gaan ek myself daar neerplak en bietjie deurkyk. Jou kleinkinders is inderdaad bevoorreg met ń ouma soos jy, Toortsie.

    Liked by 1 person

    1. Die kleinkinders geniet regtig die ou boeke. Ek het nog ‘n boek wat my ma vir my gekoop het wat ek stukkend gelees het. Daarná het my eie kinders dit oor en oor gelees en nou haal die kleinkinders hom ook uit tussen die ander boeke om te lees.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s