Een malle oomblik

Let wel, nie een malse oomblik!

Toortsie se man en kleinkinders het Toortsie bederf met BAIE groente uit die groentetuin, wat vinnig verwerk moet word, voor die pendelry gebeur, anders is dit verlore. Toortsie verwerk groente. Toortsie maak kos om saam te neem op die pendelpad. Die kleinkinders kuier daar. Dan moet Toortsie vinnig winkel toe om proviand te koop vir die plaas. Dis beurtkrag en kleinkind moet deur ‘n venster klim om binne die huis te kom.

Hulle tel ‘n maatjie op en so stadigaan begin die spelery. Dit gaan mal. Hulle hardloop en geniet die ruimte. Drie kinders speel uit volle bors op ouma se klavier. Dit gil en jil. Ouma werk vir ‘n vale om klaar te kry vir die langpad. Ouma wil vier uur ry. Ouma se kop werk nou in paaiemente, kan glad nie meer funksioneer op meer as een plek nie. Ouma se kop werk ook nie meer oortyd nie. Daar is honde ook nog. Die kinders is skrikkerig vir die honde.

Die nefie bel, hy wil kom kuier. Ouma sê dis reg, hy kan gou kom voor hulle moet ry. Vier uitbundige kleuters bymekaar. Ouma gebruik gou die breuk sodat haar kop net gou ‘n bietjie kan rus.

Die maatjie is bang vir die honde. Honde moet uit.

Nog iemand klop aan die deur. ‘n Man wat lus is vir tee. Hy wil die huis kom kyk. Dis tee en kos wat rondstaan en speelgoed wat rondlê en meubels wat nog nie reggeskuif is na die daknatmaak nie. Die ander mamma neem die kinders buitentoe. Honde moet weer in die huis in. Honde en maatjie kan nie op dieselfde plek wees nie. Daar is een vlieg wat om die man se kop draai. Hoe harder Toortsie probeer stilsit, hoe meer pla iets!

Die kuiergas drink sy tee en vertrek. Honde spring op teen sy bakkie, wat hulle nooit doen nie, want daar is ‘n skaaphond agterop die bakkie. Honde jaag die bakkie.

Maatjies gaan huis toe. Dis 5 nm. Dit beteken ons gaan in die donker op die plaas aankom en dis beurtkrag en ons moet nog pak.

Net daar besluit Toortsie: Tot hiertoe en nie verder nie.

Ons ry môre.

🙂

Die lewe is ‘n lied. Rof. Mal. Deurmekaar. Heeeeeeerrrrrrlik, want ouma se kleinkinders kuier hier.

Alles is nou weer rustig en normaal.

Toortsie

Volgende week sal Toortsie weer haarself wees.

Of dalk nie.

26 thoughts on “Een malle oomblik

Gesels saam, asseblief!