Vanjaar is die tema by ons kerk, ‘hoop’. Verlede Sondag daag die dominee ons uit om mekaar hoop te gee met ons lewens, ons opmerkings, ons optrede.
‘n Vriendin, wat vir meer as ‘n jaar van haar man vervreemd was en terug is by hom en weer probeer, bring hoop vir haar maats wat deur soortgelyke omstandighede gaan.
Die ouers en vervreemde kind wat mekaar weer vind, gee hoop vir ander ouers en vervreemde kinders en gee hulle die moed om weer te probeer.
Die vrou wat haar ongeneeslike siekte met soveel positiwiteit aanvaar en hanteer, bring hoop vir soveel ander.
Wanneer ‘n egpaar wat vir jare sukkel om swanger te raak, wonderbaarlik swanger raak, bring hulle hoop.
Die gesin in nood wat ‘n sak kos voor hulle deur ontdek, gee vir ander ook hoop.
Die student wat, teen alle verwagtinge in, hard werk en sy kursus slaag, gee hoop vir ander studente wat swaar kry.
Die persoon wat bo sy omstandighede uitstyg, gee vir die mense van sy gemeenskap hoop.
Soveel mense besoek my bloginskrywing, Was jy al ooit moedeloos?, kom vertel van hulle swaarkry, hulle pyn, vra vir gebed, bid net daar vir mekaar, gee vir mekaar raad en hoop met hulle kommentare. En dan, uit die bloute, kom skryf iemand wat so twee jaar terug daar geskryf het dat hy alles verloor het, ‘Toortsie, baie dankie vir jou gebede, Ons SKEPPER het gehoor en voorsien, PRYS SY NAAM.’, en hy kom gee vir my hoop, hoop dat ons mense kan help deur gebed en aanmoediging, selfs al ken ons hulle van geen kant af nie, hoop dat ‘n eenvoudige ou bloggie deur gewone mense geskryf, tog vir iemand iets kan beteken. Hy gee nie net vir my hoop nie, maar vir elkeen wat daar uitkom in moedeloosheid, met geen vooruitsigte op uitkoms nie, en dan daar lees van ander mense wat getuig van ‘n lewende God wat voorsien, ander mense wat self al deur moeilike dinge is. En ek kan verstaan waarvan hulle praat omdat ek ook al daar was. Meermale daar was.
Kom ons vertel vir mense hoe God vir ons goed is, in nederigheid natuurlik, sonder om te dink dat daar ‘n stralekrans bokant ons koppe is. Kom ons wys vir mense hoe God betrokke is in ons lewens, hoe Hy werk. Kom ons gee vir mense hoop deur ons lewens en getuienis.
Toortsie
Soos jy weet, is ek mos die leier van die paashaasbende. Ek het al dikwels gewonder oor geloof, hoop en liefde wat volgens Paulus die 3 bly. Ek sien hoop as die bestemming (uitkoms), geloof as die pad (plan) en liefde as die reis (aksie). Hoop is dus goed en wel, maar as jy nie die werk (liefde) in sit nie, is dit nutteloos.
LikeLiked by 1 person
Net so. Niks val net in jou skoot nie.
LikeLike