Uitsaailysies teenoor groepe

Beide hierdie twee genoem, naamlik uitsaailysies (Broadcast lists) en groepe (Groups) op Whattsapp, dink ek, is geskep om mense se werk minder te maak. Dis tog wat elektronika behoort te doen: Ons werk minder maak.

Ek sê altyd dat ‘n rekenaar nie ‘n tikmasjien is nie en ons dit nie as sodanig moet gebruik nie. Daarom is dit nodig dat ons die funksies moet leer ken en tot ons voordeel benut. Wat ons meestal doen. Wat mense soms misbruik.

Na aanleiding van die opruimingsessie van verlede week en my opruiming van elektronika, doen ek hierdie inskrywing. Wat is die voordele en nadele van beide hierdie twee hulpmiddels?

Groepe is lekker as jy ‘n klomp mense met dieselfde doel wil betrek. Dit verminder misverstande as almal sommer op dieselfde groep ‘n ding bespreek. Dit verminder ook werk as jy dieselfde boodskap vir hoeveel verskillende mense wil stuur en nie al die antwoorde wil oor en weer stuur nie.

Dit is egter baie belangrik dat by die doel van die groep gehou word. Sodra daar prentjies op geplak word en ander nonsensies gedeel word, mag dit ‘n irritasie vir sommige lede van die groep raak.

Die alternatief daarvoor is dan nou die uitsaailysies, oftewel Broadcast lists. Die lekker daarvan, is dat jy dieselfde boodskap met die druk van een knoppie vir almal kan aanstuur. Elke persoon wat reageer, reageer dan slegs na die betrokke persoon, en almal kry nie die boodskap nie. Wonderlik. Maar ook dit kan misbruik word, veral as die eienaar van die uitsaailysie ‘n regte uitsaaier is en jy die een ongevraagde boodskap na die ander ontvang.

‘n Mens kan jou saggies verwyder van ‘n groep, of dalk ook nie so saggies nie. Almal kan sien wanneer jy besluit om die groep te verlaat, en dan wonder hulle daaroor. Of jy kan besluit om die groep vir ‘n spesifieke tydperk stil te maak (mute). Daardeur word jy nie uitgesluit deur die groep nie, maar jy kry nie al die boodskappe wat gestuur word nie.

Die probleem as jy ‘n uitsaaier het wat die een advertensie na die ander vir jou stuur, is, hoe raak jy daarvan ontslae? Gaan jy op sy tone trap en vra dat hy ophou om dit vir jou te stuur? Of om jou van die lys te verwyder? Die alternatief is dat jy dan die persoon sommer net prontuit blok, maar dit beteken dan dat jy geen van sy boodskappe meer kry nie, sommige wat jy eintlik graag sou wou kry.

So, hoe maak julle?

Toortsie

11 thoughts on “Uitsaailysies teenoor groepe

  1. Ek het nog nie agtergekom dat ek boodskappe mis as die groep ge-mute is nie. Ek het twee groepies wat ge-mute is vir ‘n jaar elk en ek lees wanneer ek so voel. As jy net sekere boodskappe wil ontvang, stel ek voor jy praat met die broadcaster.

    Liked by 2 people

  2. Met beide kontak ek die stigter en verduidelik dat ek graag deel sal wil bly maar my data laat my nie toe om elke dag 36 boodskappies wat net uit traan ogies bestaan oop te maak nie. En dan verlaat ek die groep as ek seker is daai een weet dat dit nie sy as stigter is wat die probleem is nie maar die reageerders….dis nie lekker nie maar ek dink dis al wat werk. Was al op n groepie waar die stigter self die groep verlaat het….dit het toe maar n stadige dood gesterf.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!