My rondtes van Vader Cloete

Dit lyk my daar is net een C-idioom in Afrikaans en dit is die rondte van Vader Cloete. Volgens Mieliestronk is die betekenis: Die rondte van Vader Cloete doen — by almal aangaan wat jy om ’n bepaalde rede wil of moet nader, sonder om iemand oor te slaan.

Ek is nogal lief om die rondte van Vader Cloete te doen. As ek nou aan my rondtes dink, is daar twee wat nou uitstaan.

‘n Hele klompie jare gelede het ek en my ma die pad aangedurf en by haar broers gaan kuier, die een naby Grabouw en die ander een in Somerset-Wes. Wat ‘n wonderlike dag! Ons het te lekker by oom Jurie en tannie Vonnie gekuier en hulle het ons onthaal soos hulle maar nog al die jare doen. Oom Kotie het gebly by dieselfde tehuis waar my ouma in die vroeë tagtigs gebly het. Dit het vir hom baie beteken dat hy sy laaste jare in daardie selfde tehuis kon deurbring. Hy het ook vertel dat wanneer hulle sterwend is, hulle na ‘n sekere kamer geneem word, dieselfde kamer waar ouma oorlede is, en dat hy slaap onder haar kombers en in daardie selfde kombers toegedraai wil word wanneer hy sterf. Die gedagte aan haar het hom baie gerus gestel. Beide hierdie ooms is oorlede, en die tannie woon ook nie meer in die ou plaashuis nie. My ma is ook baie oud en sal nou nie meer so ‘n rit kan onderneem nie.

‘n Ander keer het ek ‘n klompie vriendinne gaan opsoek. Ek het vir my dogter gaan kuier in Stellenbosch en toe die geleentheid gebruik om saam met twee van my ou studentevriendinne te gaan eet. In Durbanville het ek nog ‘n vriendin gaan opsoek en groot hartsdinge gepraat. In die Paarl het ek en my ou skoolmaat saam tee gedrink. My laaste besoekpunt was ‘n baie goeie vriendin wat rugmurgkanker gekry het. Sy was nog onder behandeling en het by haar familie in Wellington gebly. Ek is so dankbaar dat ek haar gaan opsoek het, want kort daarná het haar gesondheid só verswak, hulle het nie meer besoekers toegelaat nie. Dit was die laaste keer wat ek haar gesien het.

Watter rondtes van Vader Cloete bly julle by? Skryf ‘n bietjie daarvan op julle blogs.

En as jy ooit die gedagte kry om so ‘n rondte van Vader Cloete te doen, kan ek net sê: Doen dit! Jy sal nie spyt wees nie. Gaan soek daardie mense op wat jy vir jare nie gesien het nie. Gaan kuier by hulle. Jy sal so bly wees.

Toortsie

17 thoughts on “My rondtes van Vader Cloete

  1. Dit klink nou soos ons wat so kuier-kuier hier deur die kompleks loop en dan almal in die straat tussen die huise bly staan en gesels. Jy’s reg, mens moet kuier of andersins kontak hou met mense wat vir jou van belang is. Nog “c”-idiome: Die abc van iets – die eerste beginsels; jy moet hom die abc leer – om ‘n baie onkundige persoon in elementêre sake reg te help; hy ken nie die abc nie – hy weet niks; sy Achilleshiel – sy swak plek.

    Liked by 1 person

  2. Wel, dit werk met my gewoonlik so. Ek kry ‘n verskoning om oorsee te gaan. Ek kry goedkeuring daarvoor en begin dan aan goed dink terwyl ek nou daar is. As ek weer sien, het ek soveel goed gekry dat ek moet bond staan vir alles wat ek eintlik daar wil gaan doen.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!