Om vir ‘n boom te bid

Ek sou nooit kon dink dat ek vir ‘n kat sou bid nie, wat nog te sê vir ‘n hond, maar toe my vriendin een aand hoogs ontsteld vir my bel om te sê dat hulle kat baie siek is, het ek uit my hart uit vir die kat gebid. Ek het ook al vir honde gebid.

Maar ‘n boom? Ek weet darem nie.

Sowat twee weke gelede, die Donderdag, kom my nuwe buurvrou hier ingehardloop met ‘n bonsai boompie. Sy is op pad oorsee en sal ek asseblief na die boompie kyk? Sy is baie erg oor haar boompie. Sy sit hom neer waar hy gelukkig sal wees, wys vir my hoe ek hom daagliks moet water gee.

Dit werk te mooi.

Tot die Maandag.

Toe begin die blaartjies geel raak. Ek bid vir die boompie. Ek vertel by die bybelstudie dat ek bekommerd is oor die boom.

Dinsdag pendel ons, so ek maak presies hoe buurvrou gesê het ek moet maak.

Vrydag, toe ons terugkom, het boompie al sy blare afgegooi.

Callie bel my toevallig en sê dis ‘boomstres’. Tannie moet sy takke natspat. Ek gooi maar die boompie nat en spat nat en bid en praat met die boompie, vra ewe vir die boompie of iemand al ooit vir hom gebid het.

Hy staan net daar, blaarloos, maar antwoord niks.

My neef sê die boompie lyk ongelukkig.

Die handlanger by die kaste sê dis ‘n kremetartboom. Moet sê, blaarloos lyk hy regtig asof hy ‘n kremetartboom kan wees.

Google sê dat ‘n bonsai boompie binne ‘n maand vrek. Hulle sê dat bonsai boopies hulle blare om een van twee redes afgooi: te droog of te nat.

Dankie Google, maar watter een?

Saterdag loop ek ‘n vriendin van die vriendin raak, dié kom ondersoek die boom en sê alles is reg, boompie het maar net blare afgegooi.

Ek gooi ‘n bietjie meer water as voorheen, bonsaiboompies het mos maar nie baie wortels nie, hy is in ‘n kleinerige bakkie.

Intussen kan ek nie besluit nie: Moet die buurvrou gou terugkom om boompie te kom red, of ‘n bietjie langer kuier sodat die blaartjies eers groei? Watter een sal die beste wees?

Dan kom daar klein, bruin knoppies.

Nuwe groen uitgroeiseltjies.

Die boompie groei.

Die boompie maak nuwe blaartjies.

Vrydag, as ek die boompie vir buurvrou teruggee, gaan hy uitgedos wees met ‘n hele blad nuwe blaartjies. Kyk maar mooi!

Want hier is regtig vir die boompie gebid, hoor! Ek is doodernstig.

Toortsie

33 thoughts on “Om vir ‘n boom te bid

    1. Jong, ek bod vir vreemde goed! As ek iets soek, vra ek die Here moet my help, Hy weet dan in elk geval waar dit is! 😊 Jy kan nie dink hoe verlig ek was toe ek sien die boompie groei weer nie!

      Liked by 1 person

  1. Ons is mos in verhouding met Jesus en gesels met hom oor alles…vra raad en hulp…of dit nou ‘n boompie is of jou man se slaapbroek wat so sleg lyk en hy nie wil uitgooi nie. Wonderlik wanneer jy sien die boompie kry blare….of jou man het vir homself ‘n splinternuwe broek gekoop sonder dat jy jou mond oopgemaak het. Ons het ‘n wonderlike God 😊

    Liked by 2 people

  2. Wat ‘n heerlike getuienis! Het my sommer baie bemoedig vanoggend. Dankie, Toortsie.
    Plante is baie keer nes mense, hulle reageer verskillend op verskuiwing. Die hoeveelheid lig en temperatuur van die nuwe staanplekkie kan hulle ongelukkig maak, of vrolik laat blom.
    Sooo bly die plant het herstel nadat jy gebid het! Prys die Here.
    Op die oomblik bid ek vir my man – hy is verskuif na ‘n ander afdeling by die werk met ‘n nuwe toesighouer – iemand wat bekend is dat dit nie lekker is om vir hom te werk nie. My man sal seker ook ‘n paar blare afgooi … Die Here het ‘n doel daarmee, hoewel ek nie weet wat nie … maar die Here wat jou gebede verhoor het vir die boompie, sal my man ook help. Onse God sorg vir die lelies en voëls en Hy sorg vir ons ook.
    Dankie vir hierdie bemoedigende stukkie, hoor. Ek het dit so nodig gehad.

    Liked by 1 person

  3. Naskrif – ek sien WordPress gee my so ‘n nare gesiggie by my kommentaar – ‘n groen monstertjie met slagtande. Aggenee! Sou liewers ‘n vrolike gesiggie wou gehad het. Maar ek het nie my eie blog nie en kan dus nie die avatar verander nie. Jammer!
    Mooi aand vir jou.

    Liked by 1 person

      1. Ons het verlede jaar swaar takke gehad met die perskes. Na die snoei hierdie jaar het net die druiwe gedra, die res niks. Sal seker volgende jaar wanneer ons nie meer hier is nie. Ek glo die boompie sal nou mooi hou na die bebid. 😁

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!