A-Z Uitdaging in April. Idiome met ‘n A

Ek sien dat daar in April ‘n A-Z uitdaging is. ‘n Mens moet iewers inskryf en dan elke dag van die week, Maandag tot Saterdag, oor ‘n sekere letter skryf. Sondae het jy af.

Ek het besluit om wel deel te neem, maar nie in te skryf vir die uitdaging nie, om ‘n hele paar redes. Ek wil in Afrikaans skryf, wat ek seker is toelaatbaar is, ek wil nie gedruk wees om elke dag te skryf nie, ek sal dus skryf wanneer ek wil en ek wil dit afwissel met my ander bloginskrywings. Hierdie uitdaging sal dus ‘n bietjie langer neem as wat dit moet.

Die tema wat ek gaan probeer, is idiome. As bron gebruik ek vandag Mieliestronk se webwerf.

Idiome met A

Die eerste een waaraan ek kan dink, is dat die Appel nie ver van die boom af val nie. Dit verwys na kinders wat baie na hulle ouers aard of lyk. ‘n Mens kan familietrekke sommer van ver af sien. My arme seun, toe nog ‘n tiener, stap een dag op die strand, toe ‘n wildvreemde oom na hom toe kom en vir hom vra of hy familie van ons is. Daardie appel het beslis nie ver geval nie!

Iets wat natuurlik teen my grein is, is as iemand se oggend- en aandpraatjies nie ooreenstem nie. Ek HAAT dit. Dit is natuurlik deel van my persoonlikheidstipe, waar die waarheid ononderhandelbaar is. Dus, as ‘n persoon uit verskillende monde praat, wanneer hy vandag die een storie het, maar môre ‘n ander, het hy my klaar verloor.

Soms kan ‘n mens iemand sommer net bel, sms, whattsapp, of selfs ‘n brief skryf, of watter hulpmiddel jy ook al wil gebruik. Jy kan ‘n outydse boodskap stuur, of jy kan nuwerwetse elektronika gebruik. Soms het jy nodig om van aangesig tot aangesig met iemand te praat. Dan moet jy by hom sit, in sy oë kyk en direk met hom praat. By hom wees as jy met hom praat.

Aanstaltes maak is ‘n idioom wat ‘n mens nie meer so baie hoor nie, tog was dit baie in my ouerhuis gebruik. Ons moet begin voorbereidings tref, of regmaak om te vertrek.

Jy kan ‘n aap in die mou hê, en stilweg slinkse streke verberg, of jy kan die aap uit die mou laat, wanneer jy ‘n geheim verklap. Wanneer jy jou behoorlik vererg, kan jy die aapstuipe kry.

Deesdae wat menseregte die Alfa en die Omega is, en jy nie durf waag om ‘n opmerking te maak nie, gaan hierdie idioom nie meer werk nie: Al dra ‘n aap ‘n goue ring, hy bly steeds ‘n lelike ding. Jammer, menseregte of te nie, die waarheid is die waarheid. Gelukkig het elkeen van ons die keuse of ons ‘n aap van onsself wil maak, of nie!

Watter A-idiome wil jy graag byvoeg?

Groetnis

Toortsie

18 thoughts on “A-Z Uitdaging in April. Idiome met ‘n A

  1. Hy ken nie ‘n A voor ‘n B nie. (Hy is glad nie geleerd nie.) Hy sê nie a nie. (Hy praat glad nie.)
    Wie A sê, moet ook B sê. (Wie met ’n ding begin het, moet daarmee aanhou.) Van A tot Z. (Van die begin tot die end.) Ek dink nie ek gaan hierdie jaar die A-Z doen nie. Om elke dag ‘n blog gereed te hê en dan nog by vreemde webtuistes ook te gaan lees, begin nou na werk klink. Maar, dis nog vroeg in die jaar en dis somer – ek het ander dinge wat my besig hou – ons sal maar sien.

    Liked by 1 person

      1. Kon gisteraand nie slaap nie….en wat woel in my kop? Idiome!!! As is verbrande hout. As die kat weg is is die muis baas. Amper maar nog nie stamper. Agteros kom ook in die kraal. 😔

        Like

        1. En al daai idiome het met my te doen, want as ek nie soveel ander goeters gedoen het toe ek Saterdag moes brei nie, sou ek snags kon slaap, maar as ek nie die bredie gekook het en tert gemaak het nie, sou ek nie iets vir die onverwagte gaste gehad het nie. Amper klaar wás nog nie stamper nie, maar die agteros hét nou in die kraal gekom en my breiwerkies het betyds klaargekom.

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!