Ek is nie ‘n goeie dagstukkiemens nie. Ek glo daaraan om die Bybel self te lees en miskien ‘n bybelstudieboek om iets deeglik te ondersoek, te bestudeer. My probleem met dagstukkieboeke is dat daar een ou Bybelversie bo-aan getik word en dan die baie mooi stukkie daarná, en dat dit die enigste ‘Woord’ is wat baie mense inkry, hulle maak nie eers meer die Bybel oop nie. Ek wil nie veralgemeen hierdeur nie, ek weet baie mense maak nog die Bybel oop, lees daarin, en daarvoor is ek dankbaar. Ek is net bekommerd, soos Louis Malherbe destyds, dat ons later net vir oom Sollie, tannie Nina, ens lees, in plaas van oom Paulus, oom Petrus en oom Dawid.
Toe gee iemand vir my hierdie boek as geskenk:
Smarties vir die Siel, deur Susan Coetzer.
Ek het nog altyd van Susan Coetzer se boeke gehou en het al heelwat van hulle gelees. Ek kan my met hulle assosieer. Ons twee is omtrent ewe oud en kyk deur baie dieselfde bril na die lewe. Haar boeke is altyd menslik en eerlik en lekker om te lees.
Selfs al is ek nie ‘n dagstukkiemens nie, geniet ek hierdie boek baie. Ek doen dit as deel van my oggendstiltetyd.
Elke dag neem sy een kleur Smartie en beskryf sy harde buitekant asook sy sagte binnekant. Sy help ons om die harde buitekant van die Smartie te verwyder om by die sagte tjoklit uit te kom, om alle blokkasies tussen ons en ons Here te verwyder.
Vandag is die vers Sagaria 4:6: ‘Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here.’
Die harde buitekant van die pers Smartie beur voort in eie krag sonder sukses, terwyl die sagte binnekant van dieselfde pers Smartie vir God toelaat om met Sy krag te werk en te seën.
Haar beskrywing is iets wat elke skrywer of blogger toevallig sal verstaan: Skrywersblok. Daardie dag wat jy baie tyd het om te skryf, kom daar net niks te voorskyn nie. Jy probeer met eie krag, maar die woorde wil nie vloei nie. Dan, wanneer jy dit die minste verwag, gee God vir jou die regte woorde.
Vir mense wat lief is vir dagstukkies, wil ek graag hierdie boek aanbeveel. Elke dagstukkie is goed deurdag, het baie pitkos in en is goed vir die siel. Vir die nie-dagstukkiemense wil ek sê, moenie sommer hierdie boek eenkant sit nie, gebruik dit dan as deel van jou stiltetyd saam met jou ander boeke. Hier is genoeg stof in om te oordink.
Groete
Toortsie
Mal oor Susan Coetzer se skrywes
LikeLiked by 2 people
Dis baie waar wat jy se van die dagboeke wat sonder Bybel gelees word. Die vergelyking van die smarties se buite en binekant is n mooi beskrywing. Ek hou ook baie van Susan Coetzer se manier van skryf.
LikeLiked by 2 people
Ek is ook baie lief vir Susan Coetzer se boeke.
Dankie Toortsie, ek is ook seker sy waardeer dit baie dat hy haar boek aanbeveel!
LikeLiked by 2 people