Dis nie ‘n kompetisie nie

Soveel keer hoor ek, in ‘n geskil tussen vriende, die woorde: ‘Jy het baie meer issues as ek, nou wil jy vir my sê ek moet hulp kry.’

Dan wil ek skree.

Want ons almal het issues. Ons almal dra bagasie met ons saam, baie keer bagasie wat kom uit ons kinderdae. Bagasie wat veroorsaak dat ek vandag anders optree as wat ek behoort op te tree.

Vir die meeste van ons is dit moeilik om die probleme in ons lewe in die oë te kyk. Dis pynlik. Dit beteken dat ek verantwoordelikheid moet neem vir my eie probleme. Dat ek self werk moet maak van die dinge wat my pla. Dat ek dinge moet uitsorteer.

‘n Beradervriendin vertel van die vrou wat dringend ‘n afspraak by haar gemaak het, daar moes letterlik tyd gemaak word vir haar. Sy kom daar aan, betaal die fooi. Vriendin verduidelik wat tydens die sessie sal gebeur en die vrou kyk haar aan met skok in die oë. ‘Beteken dit dat ek nou self verantwoordeliheid vir my probleme moet neem?’, vra sy. Net daar vat sy haar handsak en loop uit die sessie. Sy het nie die moed gehad om haar probleme in die oë te kyk nie. Dit was baie makliker om iemand anders te blameer.

En dít is steeds ons probleem, dit is baie makliker om die ander persoon te blameer vir ons probleem. En solank die ander persoon méér probleme het om uit te sorteer, solank ek nog ‘n vinger na hom kan wys, is dit nog wel met my, kan ek nog rustig sit, hoef ek nie verantwoordelikheid te neem nie.

Ongelukkig, liewe vriend, werk dit nie so nie. Ons probleme gaan ons lewenslank met ons saamdra as ons nie bereid is om dit in die oë te kyk nie. Ons kan miskien vandag vir Persoon A die skuld gee, hom uit my lewe werp, en môre vir Persoon B, maar die waarheid is, dat ons onsself altyd met ons gaan saamdra, of ons nou aan ons wil werk of nie.

Ons is nie in ‘n kompetisie met die ander mense om te kyk wie het die meeste probleme nie. Ons het egter ‘n verantwoordelikheid teenoor onsself. Ek teenoor myself, jy teenoor jouself, en ek kan jou belowe, om jou probleme in die oë te kyk, dit met God se hulp uit te sorteer, is die bevrydendste ding wat jy ooit kan doen, die grootste geskenk wat jy ooit aan jouself kan gee.

Waag dit! Jy sal nie spyt wees nie.

Ek het dit gedoen. Ek doen dit steeds as ek agterkom daar is iets in my hart wat uitgesorteer moet word. Keer op keer raak die las wat ek op my skouers moet dra, net ligter.

Groete

Toortsie

15 thoughts on “Dis nie ‘n kompetisie nie

  1. Iemand sê die naweek vir my: Everyone that is currently between the ages of 30 and 50 plays the blame game” Vir ‘n oomblik was ek geskok, maar hoe meer ek aan mense in my groep gedink het, hoe meer akkuraat het dit geklink. En ek sê nie daarmee dis almal nie. Ons was ook aan die ontvangkant die naweek op ‘n baie lelike manier oor hierdie selfde ding…mense met issues wat bly blameer, en aanhou blameer en seker nooit gaan ophou blameer nie, want dis te lekker om ander die skuld te gee. Dis ook makliker as om self hand aan die ploeg te slaan en te werk aan jou issues.

    Liked by 2 people

  2. Ik ben het volledig eens met wat je zegt.
    Volgende maand (24 maart) vier ik dat ik 20 jaar geleden iets ging doen aan mijn alcoholverslaving.
    20 jaar zonder mijn problemen te ontvluchten in alcohol, maar hulp zoeken bij God en in mijn gebed.
    Ik breng die dag een artikel uit, waarom ik dat besluit genomen heb en hoe ik de kracht gevonden heb in gebed.
    Nogmaals bedankt voor dit prachtige bericht.
    Groetjes van uit België
    Theo
    PS. Volgend jaar kom ik jullie daar in Zuid-Afrika een bezoekje brengen. Ik ben nu reeds aan het sparen

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!