Waar kry jy tyd vir stiltetyd?

Toe ek vanoggend laatoggend op my bed sit en so lekker stiltetyd hou, besef ek wat ‘n voorreg ek het om fleksietyd te werk, om eers later in die dag by my kantoor in te stap nadat ek al my ander goedjies klaar gedoen het. Wat maak mense wat voltyds werk, wat hulle kinders al vroeg moet aflaai, wat self betyds by die werk moet kom? Ure in die verkeer moet sit? Hoe maak hulle?

Die afgelope twee weke met my groot getrekkery en lone ook nog tussenin, het ek net weer eens besef hoe maklik ‘n mens nié by behoorlike stiltetyd uitkom as jou program net effens omver gewerp word nie. Hoe maak ‘n mens? Hoe maak julle om tyd by die Here te kry? Wanneer het julle dit? Kom julle daarby uit?

Een of ander skrywer het jare gelede ‘n boek uitgegee: Te besig om nie te bid nie. Ek het dit nog nooit gelees nie, maar die naam van die boek het ‘n blywende indruk op my gemaak. Ek is geneig daartoe om, as ek te besig raak, my stiltetyd af te skeep, met erge nadelige gevolge.

Daar was ook ‘n tyd in my lewe wat ek vroeg moes inval by my werk, die kinders betyds moes regkry vir skool, 50 km ry om almal betyds te kry waar hulle moes wees. Ek is nie ‘n goeie vroegoggendmens nie, en nog vroeër opstaan het nie vir my gewerk nie. Wat ek toe gedoen het wat wonderlik gewerk het, was om die kinders eers te gaan aflaai by die skool, hulle moes half 8 daar wees, selfs vroeër, en dan iewers in die dorp op ‘n stil plekkie gaan sit en stiltetyd gehou totdat ek 8 vm by my werk moes inval.

Elkeen van ons moet maar na ons eie program kyk en self bepaal wanneer dit vir hom die beste is. Vroeër jare was dit vir my beter om eers in die oggend almal weg te help, ontbyt te gee vir wie ontbyt moet kry, en dan later in die oggend rustig by die Here te sit. Dalk werk dit vir jou. Dalk moet jy in die oggend ‘n halfuur vroeër opstaan. Dalk kom jy in die middag ‘n rukkie voor die res van die gesin by die huis. Wat van jou middaguur, is daar nie dan ‘n stil tydjie waar jy met God kan tyd spandeer nie?

Komaan, raak kreatief. Jy sal jou verbaas waar jy oral ‘n tydjie ingeruim sal kry om net stil te raak, jou Bybel oop te maak, rustig te hoor by God wat Hy vir jou wil sê, dit wat jy vir Hom wil sê of vra, te doen. Vind daardie tyd. Maak daardie tyd. Jy sal so bly wees.

Groete

Toortsie

16 thoughts on “Waar kry jy tyd vir stiltetyd?

  1. Toe die kinders klein was, het ek destyds dikwels baie skuldig gevoel as ek besef het, ek sit en bid op die toilet. Toe kry ons ‘n padre wie graag wou leer Afrikaans praat. Almal het hom aangeraai om my te vra om hom te help. Maar hy het met voorafopgestelde siening oor “Boere”SA toe gekom en was erg skepties om ‘n “Boer” se vrou te nader. In elk geval, onder die leerdery deur het ons baie gesels. Eendag raak hy aan die giggel en later, hoe vroliker en later sit en skater hy van die lag. Kom toe uit, hy bevind homself ook dikwels op die toilet, ernstig aan die bid. Maar ja, Homer staan vroeg op en gaan slaap vroeg. So ek kry my stiltetyd in die aand.

    Liked by 1 person

  2. Ek het altyd gesukkel en was nooit en is seker steeds nie ‘n oggend mens nie, maar ek het eendag besef dat as ek my verhouding met die Here wil vat tot ‘n volgende vlak sal ek moet plan maak.

    Toe het ek maar begin om 5uur in die oggend op te staan en dan stilte tyd te hou.

    Ek hoef nie ver te ry na my kids se skool nie, so as ons teen 07:10am klaar is, is almal betyds.

    Ek dink vir baie werk die oggende en vir ander werk die aande. Ek dink ook dit hang af van jou skedule en hoe graag jy saam die Here wil kuier. ❤️

    Liked by 1 person

  3. Ek staan soggens vroeer op (ook nie altyd nie) om stiltetyd te hou. Wanneer ek ‘n dag ingaan sonder my stiltetyd is my dag niks lekker nie. Dis darem snaaks hoe vinnig ‘n mens gewoontes of roetines aanleer – en hoeveel tyd ons daaraan kan spandeer – maar wanneer dit by stiltetyd kom raak dit dikwels ‘n afgewaterde, afgeknypte, afgejaagde storie. Wonder hoe sal ons oorleef as die Here Sy afsprake met ons ook so sou nakom…. Ek sidder.

    Like

Gesels saam, asseblief!