Om iemand verkeerd aan te haal

Dit is nogal iets wat my omkrap, as iemand my verkeerd aanhaal. Dit is nogal iets wat gereeld gebeur.

‘n Mens is in ‘n gesprek tussen ‘n klomp mense. Almal tjip in, die gesels gaan lekker, soms laf, soms ernstig. Ná die tyd word die storie oorvertel en word ‘n mens aangehaal en dan klink daardie selfde storie soveel anders. Gewig word op verkeerde plekke gesit, verkeerde goed word oorbeklemtoon, en as dit hoe is, is dit sommer jy wat alles gesê het, selfs al het jy nie.

Storiedraers maak my bene lam. Die persoon kom by jou met ‘n storie en die geringste reaksie wat jy toon, of selfs nié toon nie, word die volgende storie wat weer teruggedra word.

‘n Rukkie gelede loop ek iemand raak en die persoon se optrede verklap aan my dat daar ‘n storie aangedra is waarby ek dalk betrokke kon wees. Eintlik kan ek dit glad nie onthou nie, maar nadat ek al vir dae daaroor dink, mag dit dalk vaagweg bekend wees. Ook so iets van iemand wat ‘n storie vertel en almal reageer en ek sê iets lafs, niksbedoelend nie, en die storiemaker/storiedraer kan nie gou genoeg die nuwe storie loop oorvertel nie.

Ek is jammer vir enige persoon wat ‘n storie moet aanhoor wat nie waar is nie, veral as die persoon sensitief is. Dit maak seer.

Maar, soos hierdie prentjie hierbó wat ek op Facebook raakgeloop het, of Warren Buffet dit gesê het of nie, of hy reg aangehaal is, of nie, stem ek saam: Ek het die keuse of ander se woorde my gaan ontstel, of nie. Soms is die keuse ekstra moeilik, maar soms moet ek net my skouers skud dat dit afrol.

Ek het ook die keuse om, as ek ‘n skinderstorie oor my hoor wat my erg ontstel, te gaan uitvind of dit regtig waar is. Dit is moeilik, maar dit is moontlik. Konfronteer die persoon en vra of sy regtig dit gesê het wat aan my oorgedra is, en wat die regte bedoeling is.

Ek kan ook kies of ek die waagmoed sal hê om, as ek besef dat ek verkeerd aangehaal is, self dit reg te stel en te sê dat die storie nie waar is nie.

Hê ‘n mooi dag. Vandag kies ek vreugde en vrede en lag en plesier. Net dalkies kom hier reën aan. Of nie.

Toortsie

25 thoughts on “Om iemand verkeerd aan te haal

  1. Ek vat dit van wie dit kom. As iemand my vertel dat my vriendin A so en so gesê het, dan lag vir daardie persoon en vertel hulle net daar en dan waar om hulle groot bek te druk. WANT ek ken A soos my eie hart en ek weet sy sal nooit. Maar natuurlik as dit suster AB is dan glo ek dit sonder om eers te vra “waar kom jy hieraan?” want ek ken suster AB baie goed en sy hou van skinder en hou van lieg en hou van stir. Wat ek gewoonlik doen as ek nou iets regtig baie erg gehoor het (dit moet baie baie erg wees) dan nooi ek die een wat dit kastig gesê het vir koffie en die een wat dit oorvertel het (sonder dat hulle weet). Dis DIE vinnigste wat jy by die waarheid uitkom want die twee sal spook om hulle onskuld te bewys. So leer die skinderbek en die boodskapper dat ek nie iemand is om oor te loop praat nie want ek sal jou in die oë kyk en vra “hoe nou?”. Mense doen dit nie meer nie. Vermy konflik en als maar soms moet jy al die henne bymekaar kry om ‘n gekloet te stop.

    Liked by 1 person

      1. Dis n siekte…sommige mense ly net meer daaraan as ander. Almal hoor daagliks stories maar dis mos altyd daai een wat dit moet vertel….ai toggie. Jammer jy het deurgeloop!

        Liked by 1 person

  2. Ek stem heelhartig saam. Ek was nou die dag heel verbaas toe iemand my vra hoe gaan dit nou met my man. Moet ek toe uitvind hy het sommer kanker. Hy het net ‘n ruk terug besluit om gesond te begin leef en ‘n hele paar kilo’s afgedkud. Toe het hy sommer kanker…. 🙄

    Liked by 1 person

  3. Baie waar, veral op n dorpie soos ons s’n . Hier vat ek alle skinderstories net n knippie sout en steur my ny glas nie saaraan nie, totdat die betrokke persoon dit vir my self vertel. Stories oor my? Gelukkig het ek lankal geleer om my glad nie te steur aan wat ander van my dink nie- solank ek self net vrede in my hart het dat ek reg is.

    Liked by 1 person

      1. dit moet jou in elk geval niks pla nie .( jy weet mos jy is awesome!) Nee, ek glo mense maak stories, want dis al wat hulle hetom te doen. Aner is weer te besig om regtig oor stories te wonder. Maar ek glo as jou gewete skoon is,as jy jou saak oordink het en weet wat jy is en wat jy wil, steur jy jou niks aan stories nie, want dis meestal negaties en sal mens in die grond in druk

        Liked by 1 person

        1. Ek dink juis dit is die geheim van klein dorpies, ‘n mens moenie jou te veel steur nie. Almal weet van almal, selfs nog voor dit gebeur het. Ek noem dit sommer omgee. Ek is tog so dankbaar hulle vergeet nie heeltemal van my nie, wat gaan ek dan maak?
          O, ek weet! As hulle vergeet van my gaan ek maak wat die spreekwoord sê: People who lives in glass houses should not undress themselves!’
          né!
          Dan gaan die dorp darem praat!

          Like

          1. Weet jy ek dink òok dis omgee. In ons dorp groet die mense nog mekaar as jy verby hulle ry in d strate. Dis so lekker! En as jy Sondae na kerk gou Spar toe gaan, bly jy lank weg. En as jy uitkom is jy heeltemal op hoogte met dit wat in d dorp aangaan( of gegaan het!)

            Like

  4. Die oomblik wat iemand iets oorvertel, is die storie reeds nie meer suiwer soos wat dit was nie. Dis hoekom daar soveel misverstand tussen mense is. Gelukkig leef ek deesdae baie geïsoleerd en is nie baie blootgestel hieraan nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s