Leervolle uitstappie

Dis al ‘n hele paar jaar wat ek die Suidpunt Strandloper Klub se bewegings dophou op Facebook. Hulle doen die lekkerste stappe en ek het só lus om saam te stap. Tot nou toe was dit net moeilik om in te pas, veral toe ons nog op die plaas gewoon het, ons moes so baie ry vir die kerk, die kinders, ens. Ek het net dit ontsien om Saterdae ook nog te moet ry vir een of ander iets.

Vandag het ons toe gaan saamstap vanaf Struisbaai Sea Shack tot by die soldatepoel by Agulhas en weer terug. Tog te lekker gesellig. Baie bekende gebied vir my, maar dit maak mos nie saak nie, die omgewing is pragtig en die geselskap tog te lekker.

Tydens die lekker saameet by die Sea Shack Restaurant op Struisbaai, vertel een van die dames van haar skoolhouery jare gelede by ‘n sekere skool en die respek wat die kinders vir volwassenes gehad het. Hoe hulle, selfs tydens pouses, opgestaan het wanneer ‘n volwassene verby gestap het en vriendelik gegroet het. Ek weet dat dit nog in party skole geleer word en toegepas word.

Kinders het natuurlik baie meer gemaklik geword in volwassenes se geselskap en ek is baie bly daaroor, maar saam met die gemaklikheid het ook ‘n onoplettendheid gekom, ‘n ongeêrgdheid.

Is dit nou toevallig dat Kameel juis vandag hierdie foto op Facebook plaas?

My hele wese skree, ‘Nee!’, en anders as wat almal mag dink, skree dit nie nee omdat die jongspan op hulle fone is nie, dis mos maar ‘n gegewe en ek is self baie op my eie foon, maar ek skree, ek huil oor 3 pragtige jongmense wat sit, terwyl ‘n ou, ou dame moet staan, moet hang aan ‘n paal in ‘n bewegende bus of trein of wat dit is. NEE!

Ek wil so graag glo dat dit nie die norm is nie, dat daar soveel pragtige jongmense is wat hulle sitplekke afgee, maar ongelukkig is dit ‘n ding wat oral begin posvat. Ek het dit ook al beleef.

Mammas, pappas, ons moet ons kinders reg opvoed, goeie maniere leer, respek vir volwassenes leer. As ons dit nie doen nie, gaan ons die vrot vrugte daarvan pluk, gaan dit op ons self afkom wanneer ons dit die minste kan bekostig. Dit is ONS EIE verantwoordelikheid om ons kinders te leer, nie die skool of die dagsorg of die kerk nie, hulle rond net af waar ons nie kan bykom nie, maar ons, as ouers, is die PRIMÊRE OPVOEDERS.

Groete

Toortsie

21 thoughts on “Leervolle uitstappie

  1. Dis ‘n ware woord wat jy hier spreek Toorts. Dit lyk my die ouers is deesdae bang vir die kinders en gee hulle hul sin met alles. Dan verwag hulle die onderwysers moet vir die jonges maniere leer. Dis iets wat jy van kleins af moet indril.

    Liked by 1 person

      1. Ek het een keer die kinders lank na skool gehou. Dit was ‘n ‘raas’periode, altyd die laaste 10 min van die dag. Ek weet nou nog nie wat die doel van die periode was nie. Hul het nie die klok hoor lui nie en ek het nie vir hulle gesê nie. Toe hul dit uiteindelik agtergekom het en mekaar stil gekry het, het ek vir hulle gesê dat hul vir hul ouers moet sê dat die rede hoekom hulle laat was, omdat húlle hulle nie maniere geleer het nie. Geen haan het agterná gekraai nie.

        Liked by 1 person

  2. Ek vertel my dogter van die foto en dat ek dit op my kleinkinders se whatsapp groep gesit het met ‘n vermaning. Ook dat ek my sal doodskaam as dit een van my kleinkinders is wat daar gesit het, en nie die ordentlikheid gehad het om op te staan nie. My dogter sê toe hoe maklik ouers hulle plig versuim. Haar vyftienjarige seun skink koeldrank en bedien dit sommer so rond en bond tussen almal. Sy leer hom toe dat vroue en gaste eerste bedien word ens. ‘n Mens neem net aan hulle weet wat etiket is.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!