Daardie eensaamheid

Woordnoot skryf van ‘n verskriklike ding, ‘n ding wat ek vrees, ‘n ding van oudword waarvoor ek bang is. Eensaamheid. Daardie eensaamheid. Sy skryf van ‘n man wat in Langebaan woon wat self siek is en sy siek ma versorg en al wat hy vra is iemand wat ‘n koppie tee by hom sal kom drink.

Hy sê: “Ek wens ek het net iemand gehad wat so nou en dan hier kan inloer. ‘n Koppie koffie saam my drink. Net my hand vashou. Ek is nie bang om dood te gaan nie. Ek is so bang vir hierdie eensaamheid. Stilte is ook ‘n manier van doodgaan.”

Eensaamheid is ‘n ding wat jou gou bekruip. Soos reeds genoem, is dit iets waarvoor ek bang is. Ek het mense nodig. Mense het mense nodig. Selfs die grootste introvert het soms mense nodig. Geselskap. Die gevoel van behoort.

Dit voel vir my of die samelewing waarin ons is, die samelewing wat ons vir onsself kweek, die samelewing waaraan ek self meedoen, eensaamheid kweek. Ons werk so hard. Ons vul ons tyd met allerhande goed. Ons het nie eers meer tyd vir ons kinders nie. Ons is so besig, ons kan nie by ons ouers uitkom nie, selfs al woon hulle op dieselfde dorp as ons.

Ook ek. Ook ek moet werk daarvan maak om my ma gereeld te besoek en ek skaam my daarvoor. Die keer wat ons as ‘n familie saamkuier, skryf ek daaroor, so wonderlik is dit.

En dis eintlik verkeerd, want ons moet so baie saamkuier dat dit eerder so moet wees dat ons daaroor skryf wanneer ons die keer nié saamkuier nie. Ons is veronderstel om een organisme te wees wat mekaar ondersteun en opbou.

Ek weet nie wat om te doen om te keer dat ek nie dalk ook een dag in eensaamheid gaan verval nie. Ek wil oud word in hierdie huis, maar is dit nou nie juis ‘n manier om te vereensaam nie? In die ouetehuis voel dit ook soms of jy vergeet word, maar daar is ten minste ander oumense om mee te gesels.

Ek besef maar net dat ons, ek, net baie meer sensitief moet wees, op die uitkyk vir eensame mense, hulle gaan besoek, hulle nooi vir tee, nie so gejaagd moet wees en net my eie ding doen nie, maar moeite doen om by groepe en organisasies aan te sluit en ook daar my oë oop te hou vir die eensame mense, die skaam mense wat dalk nie eerste ‘n hand van vriendskap uitsteek nie, maar wag vir my om dit te doen omdat ek dalk nie so skaam is nie.

Dankie, Woordnood, vir hierdie herinnering. Ek sal sommer vandag werk maak hiervan. En ek vra ook vir jou: Wil jy nie vandag uitkyk vir iemand wat eensaam is en vir hom gaan kuier of hom nooi na jou toe nie?

Groete

Toortsie

46 thoughts on “Daardie eensaamheid

  1. Dis een ding wat ek oplet hier in ons klein gemeenskappie Toortsie – dat die mense so bly is wanneer iemand net ‘n oomblik stikstaan om te gesels. Hulle help mekaar met hare sny, ingroeitoonnaels versorg en sorteer selfone uit wat steeks geword het. Kweek vetplantjies en dra aan. Ek het suaerkraut weggegee en beet terug ontvang.

    Liked by 4 people

        1. Baie waar. Ek het besluit die jaar maak ek ‘n punt daarvan om kontak tehou, what’s app het darem die goeie voordeel en ek moet jou sê, sover is die reaksie baie onverwags en so positief. Dit is ‘n lekker gevoel, skielik is die verlange minder pynlik- as dit sin maak

          Liked by 1 person

            1. Dit vat niks nie. Ek het letterlik so groot geword, daar was altyd mense in ons huis, veral naweke. My pa was nie altyd impressed nie, veral nie as daar rugby aan was nie. As jy weer kyk sit al die manne en rugby kyk en die vroue kloek in die kombuis rond. Ek kan jou nie sê hoe ek dit mis nie, almal praat saam en deurmekaar, dit gons en gaan aan. Party van die familie vat bietjie meer geduld, sommer baie. Glo my, ek geniet my stil tye baie, maar ek dink as jy so bevoorreg is om te kan sê kom kuier- doen dit.

              Liked by 1 person

  2. Toortsie, dis so mooi geskryf en dink so baie mense vrees dit. Ek dink jou voordtel van steek jou eie hand uit is wonderlik. Hoe ouer ek word hoe meer verstaan ek die storie van ” be the change you want to see in the world”. Dankie vir die mooi skryf en deel🌻

    Like

  3. Dis so erg dat ons almal so ongelooflik besig geword het dat ons geliefdes naaste aan ons moet smag na n bietjie kameraadskap. Wat het van die goeie oy tyd geword toe vroue met lang wit rokke onder die bome gesit en naaldwerk doen het en gesels het?

    Liked by 1 person

  4. As n mens van kleins af geleer het om jouself besig te hou voel mens nie sommer eensaam nie. Ek is n alleen mens, tog reik ek elke dag uit na mense wat op my pad kom. Elke oggend en middag as ek stap praat ek met verskillende mense langs die pad. Na n jaar van hier loop het ek n groep vreemde mense leer ken. Ons mis mekaar as ons mekaar nie in die week raakloop nie. Soggens vroeg is dit die busryers wat groet en hallo sê en ” geniet jou dag” sê. Ook Waar was jy? Het jou lanklaas gesien. Dit maak dat daar nie tyd vir eensaamheid is nie.

    Liked by 2 people

      1. Dis hoekom ek elke dag uitgaan, net daardie goeie more, genie jou dag is belangrik. Party dae gesels ons sommer oor die mooi blomme of net oor die koeler weer en dit is wat belangrik is. Mens het geselskap nodig. Ons is nie gemaak om alleen te wees nie. Soms voel ek ook: Was daar tog net iemand om net n koppie tee saam te drink. My een vriendin(sy is 10 jaar ouer as ek en ek praat van ou tannie) voel my gevoel aan en ek hare. Ons bel dan of maak n afspraak om n teetjie te gaan drink. Daarna kan mens weer vir dae sonder werklike kontak wees.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s