‘n Wens vervul

Soveel keer in my lewe het ek al iets in my hart gewens, dalk selfs vir niemand daarvan vertel nie en dan eendag, heel uit die bloute raak dit waar. Dis net ek en die Here wat daarvan weet.

Voorbeelde hiervan was my tienerwens om eendag Wene te besoek, wat ek heeltemal vergeet het, en verlede jaar waar geraak het. Of om op ‘n staptog in die Kruger Nasionale park te gaan, dit het op die vreemdste manier denkbaar waar geraak. Of, om op ‘n olifant se rug te kan ry. Of my lawwe wens 30 jaar gelede om vir my kinders die sneeuberge te kan gaan wys, daardie tyd was dit werklik ‘n saak van onmoontlikheid.

Toe ons twee jaar gelede dorp toe getrek het, was my wens om party dae die oumas te gaan haal dat hulle sommer net die dag by my sou deurbring. Sommer net hier sit. Ek kon dit soms met my skoonma doen, maar ons huis was nie geskik om my ma daar te ontvang nie, dis die een trappie ná die ander en sy beweeg net te moeilik. Intussen het haar gesondheid soveel verswak dat dit regtig onmoontlik geraak het. Ek het nie gedink dit sal ooit weer gebeur nie.

Gister het my droom waar geraak. Die kinders was hier en hulle kon ons help om haar te hanteer, in die motor te laai, geselskap te hou.

Hulle het dit so geniet. My ma het van haar meubelstukke wat ek nou gebruik, herken. Die uitsig was vir haar heerlik en die jong geselskap het haar goed gedoen. Dit was ook vir haar lekker om weer ‘n slag aan ‘n familietafel te kon eet.

As die geleentheid hom weer voordoen, sal ons met graagte dit weer doen. Dit was so goed vir ons almal.

Ek is so dankbaar vir klein genadetjies!

Toortsie

22 thoughts on “‘n Wens vervul

      1. Dit was vir my baie swaar toe my ma haar geheue begin verloor het op ± 95 en later haar kinders begin vergeet het. Maar ek onthou nog steeds hoe die ou gesiggie opgehelder het as ek haar kamer ingestap het. Dit het ons baie jare, te veel, gekos voordat ons regtig ‘n verhouding begin bou het. Mens los sulke dinge altyd te laat en dan verwyt jy jouself.

        Liked by 1 person

  1. Ek verstaan hoe ń groot lekkerte dit vir jou was. Die kersfees voor my skoonma oorlede is, het ons en die kinders haar so gehelp om saam by die tafel te kon aansit. Tot haar dood het sy dit onthou, daardie dag om die tafel, almal saam.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!