Hulle sê

Hulle sê jy bring dit oor jouself, en die meeste daarvan is seker waar. Hierdie week weet ek egter nie of ek dit oor myself gebring het en of dit net ‘n sameloop van omstandighede was nie.

Hierdie loneweek, gewoonlik moordweek, bots toe met ‘n trekkery. Maandag trek ons met mag en mening. Dis nou na al die gepak die laaste paar dae, min slaap, wakker lê, ens. Adrenalien is ‘n wonderlike ding.

Die meubels word ingedra, die bokse raak meer en meer, hulle skuif vir my die banke soos ek dit wil hê, ons dra koeldrank en koekies en toebroodjies aan vir al wat leef en beef.

Marius dra die een boks na die ander waarop ‘kombuis’ staan, aan, hy haal die koerantpapier af, pak die goed uit, Esther en Maria was en droog af en dra dit weer aan sodat Toortsie moet wegpak. Dan moet Toortsie kom wys waar die handoekreëlings moet vas kom, of waar sy die liggies wil hê. Die tafel raak voller en voller. Die bouwerk gaan steeds voort en net mooi as ek dink ek wen, hoor ek hulle gaan weer stof maak. Dit boor en dit skawe en dit verf, die gordynmense sit gordynstokke op, die waterfilter moet geskuif word, die alarm word opgesit, die internetmense probeer ‘n sein kry en oral moet besluite geneem word. Dan is die ou van die kaste daar, dan probeer hulle ‘n TV installeer, ‘n klompie help om die dak nat te kry, ‘n kas moet nog rakke kry, so, alles kan nie weggepak raak nie. Toortsie druk net die goed in die eerste die beste spasie in, sy sal maar later weer herrangskik.

Toortsie raak vaak. En moeg. Sy pak weg en pak weg. Sy slaap min. Gaan sommer gou VLV toe net vir ‘n bietjie asemskep, raak amper aan die slaap. Wil-wil net moedeloos raak oor die stof wat net nie gewen raak nie, en ek besef dat almal wat in die huis beweeg, dit doen om dinge vir my makliker te maak. Vir my eie gerief. Net ‘n bietjie vasbyt.

Genadiglik is daar ‘n Kareltjie, wat ek in ‘n oomblik van waansin gekoop het, wat homself al so bewys het die afgelope vakansie. Kareltjie, wat hierdie week gekeer het dat sy ounooi heeltemal van haar kop af raak, wat soms vashaak in ‘n mat se fraaiing, of oor ‘n drumpel probeer loop, maar wat op sy oulike manier my help om die vloere leefbaar te kry. Ek hou hom dop as ek dink hy verdwaal, maar hy gaan staan doodstil, kyk in die rondte en vind tog sy pad.

Kareltjie is ‘n selfloopstofsuiertjie. Ou Kareltjie was hierdie week sy gewig in goud werd. Is steeds. As sy batterytjie gelaai is, dan suig en suig hy sonder kla.

Hierdie oorlog is al driekwart klaar gewen. 🙂

Toortsie

Advertisements

41 thoughts on “Hulle sê

    1. Ou Kareltjie 😊❤️. Maar ai, die matte se fraiings pla hom erg! En hy is astrant, hoor. Hy praat terug en het ‘n willetjie van sy eie. Roep my om die fraaiings uit sy rollers te haal, mar as ek hom optel om dit te doen, sê hy dadelik: ‘Sit my neer asb ‘

      Like

    2. O, en daar het ‘n lonestokkie weggeraak met 3 weke se klok-ure op. Toe moes ek maar raai en planne maak na die beste van my vermoë. Aijaijai, nie almal voel ewe gemaklik met my plannetjies nie.

      Like

  1. Ek weet hoe jy voel…en dan voel jy nog skuldig ook, omdat die mense wat jou help, nooit so ‘n blyplek sal hê nie. Byt maar vas, een van die dae is almal daar uitven dan kan jy elke oomblik geniet. Kareltjie klink na ‘n fantastiese metgesel in moeilike tye.

    Like

  2. My kinders in Kanada het ook ń Kareltjie, seker Carl in Kanadees, hy is tog te oulik. Ons moes nes die deur toe hou anders val Carl by die trappe af en Carl met skedelbreuk wil ons tog nie he nie. Sterkte. Dalk het Daisy die koei die strokie ge eet?!🤔😱😱

    Liked by 1 person

  3. Lekker man! Ek het al n vorige geleentheid vertel van my en Trompie se eerste ondervinding met onse Outjie in my seun se werkswinkel. Ek moes iets gaan uithaal en soos dit gaan is Trompie vinnig saam met my in die garage. Skielik sluip Trompie om die hoek van een masjien en ek hoor n geritsel soos n muis of n ding. Ons bekruip beide die plek. Bly steeds op n afstand vir ingeval dit n rot is. Hier kom die Outjie toe heel aangeskuifel al geselsende omdat hy nie sy draai behoorlik om sekere dele kon maak nie. Te kostelik. Trompie was maar heel lugtig vir die ding wat geen reuk het nie. Wat eintlik gebeur het was dat my seun juis toe ons inkom die opdrag gegee het dat hy moet beweeg. Alles met sy selfoon wat maklik 25 km weg van die Outjie is.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s