Wanneer is iemand ‘n ware vriend?

Ek dink ons almal se idee van wat ‘n ware vriend is, verskil. Wat bepaal ons vriendskap? Wanneer dink jy, is iemand ‘n ware vriend?

Is dit iemand wat elke keer spring as jy praat? Of bepaal die dikte van haar beursie jou vriendskap? Of, hoe oop sy beursie is en hoeveel toegang jy daartoe het? Word dit bepaal deur hoe lekker julle saamdrink? Of dalk, hoe julle saam bid? Iemand dalk wat aan jou aandag gee? Iemand wat bereid is om na jou te luister?

Ek het verskillende vriende, ware vriende, en ek is ook oop vir vriendskap. Elkeen van my vriende verskil en daar is verskillende goed wat ons bind. A is ‘n geloofsvriendin met wie ek ‘n baie lang pad stap. R is vir my ‘n suster. S is ‘n hartsvriendin, een by wie ek sommer net kan sit en my hart leegpraat. A2 ook ‘n hartsvriendin, een wat my deur en deur verstaan. A3 is die een wat my sleep deur my krisisse. F en A4 is geestelike mentors. S2 het ‘n fyn oog en is ‘n bemoediger. L, die een wat soveel lewenservaribg het, en U, die mercy, daar is nog vele ander. En dan die Towerinne, ‘n towerspan van hulle eie kaliber. O, ek is lief vir die Towerinne, en hulle kruip net dieper en dieper in my hart in.

Almal van my vriende verskil soos dag en nag en sal nie noodwendig goed oor die weg kom nie, maar daar is ook ‘n hele paar ooreenkomste.

Hulle is lief vir my en aanvaar my soos ek is, en ek vir hulle. Ons probeer nie mekaar verander nie, maar geniet mekaar se sterk en swak punte. Ons sal mekaar liefdevol raad gee en selfs vermaan as dit nodig mag wees. Ons skinder nie agteraf van ons vriende nie en sou iemand iets negatiefs van een van ons sê, sal ons sonder versuim dit verander na iets goeds. Ons probeer nie mekaar manipuleer om tot ons eie voordeel daaruit te wen nie, en bevraagteken nie ons vriendskap as ‘n persoon anders as ons dink nie. Ons kyk nie na beursies nie, maar na harte. Ons ken ons vriende se vrese, ook dit waarvan ons nie hou nie en ons respekteer dit. Ons aanvaar mekaar se ‘ja’ en se ‘nee’. Ons skimp nie onderlangs en neem die persoon kwalik as sy nie daarop reageer soos ek dit wil hê nie. Soms het ons nodig om mekaar te dra, selfs te sleep, te stoot, en ons doen dit met liefde sonder om iets terug te verwag, want volgende keer is dit ék wat ‘n helpende hand nodig het om aan vas te hou. Ons het nie nodig om mekaar elke dag te sien, te bel, te whattsapp nie en soms gaan daar lang tye verby wat ons nie van mekaar hoor nie, maar dit ontstel ons nie, want ons weet ons is net ‘n oproep ver.

In my vriende soek ek opregtheid, eerlikheid en aanvaarding en ek is heeltemal gewillig om dit ook vir hulle aan te bied. As hulle kinders van die Here is, soveel te beter, maar ek sal hulle nie wegstoot as hulle dit nie is nie.

Lank lewe vriendskap.

Toortsie

21 thoughts on “Wanneer is iemand ‘n ware vriend?

          1. 😁😁😁ek wil nou maar net gesê het aangesien jy ‘n publieke figuur is jy weet, en jy assosieer met ‘n term (towerinne) wat vir baie mense vreemd sal voorkom…maar net dat jy weet, ons like dit dat jy ons like en dit publiek sê…

            Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!