As ek sou wou

As ek sou wou, kon ek dalk ‘n bankbestuurder geword het. Nou nie oornag nie! Oor ‘n baie lang tyd en baie harde werk en baie kursusse.

Die fondasie was reg gelê. Ek het ‘n kwalifikasie in die handelsrigting, wat ‘n goeie fondament sou wees, sou ek wou. Ek kon dalk in die bank se boekhouafdeling begin werk het, dalk op ‘n stadium die rekenmeester geword het, dan senior rekenmeester en dalk, een dag op ‘n reëndag, ingeroep word en die wonderlike nuus aanhoor: Ek is bevorder tot bankbestuurder! As ek sou wou.

Eintlik weet ek glad nie wat ‘n bankbestuurder alles moet doen nie. Ek neem aan hy moet die bank bestuur, en dit sou ek nogal geniet het, die bestuurdeel. As ek sou wou.

Daar is ‘n ander takie wat bankbestuurders het, en dit is om almal wat geld wil leen, te moet aanhoor. Hy moet simpatiek luister na elke persoon se storie, hy moet deur die persoon se beroerde finansiële state gaan en hy moet besluit of die bank nog weer ‘n keer vir die persoon gaan geld leen. Hy moet besluit of dit ‘n ja is of ‘n nee is en hy moet die boodskap vir die persoon oordra.

En dís die groot rede hoekom ek nie ‘n bankbestuurder wil wees nie.

Kyk, ek is dankbaar vir sulke mense en ek admireer hulle vir hulle werk, maar ek het nie die temperament daarvoor nie, net soos ek nie die temperament het om in ‘n myn te werk, of oumense op te pas nie. Genadiglik het God ons mos verskillend gemaak en is daar mense vir elke werk.

Ek hou ook nie daarvan om, as hulpbehoewendes vir my geld vra, te moet besluit of ek hulle moet help, of nie. Ek wil nie besluit of hulle nood groot genoeg is of nie, of ek vir persoon A moet help en nie vir persoon B nie. En ek hou nie daarvan om hulle weg te jaag nie, dit maak my siek vir twee weke.

Daarom verkies ek om eerder my liefdadigheidsgeld vir liefdadigheidsorganisasies te gee sodat húlle daardie besluite kan neem van wie mag kry en wie nie. Hier is net te veel nood om ons. Dis nie my besluit nie. En ek wíl nie besluit nie.

Want ek het nie daardie temperament nie.

En ek wil nie.

Toortsie

18 thoughts on “As ek sou wou

  1. Ag Toortsie man, jy praat nou van ‘n bankbestuurder van jare gelede. Toe was die bankbestuurder ‘n belangrike man (nooit vrouebestuurders gehad daai dae nie). Die dominee en die dokter ook. O ja, en die skoolhoof. Nou, ek weet nie wat van die res geword het nie, maar bankbestuurders: besluite word ge-ja en ge-amen volgens voorafbepaalde kriteria wat op rekenaarsagteware opgeneem is en die antwoorde uitspoeg. Selfs die mate van diskresie wat toegepas kan word, word haarfyn voorgeskryf. Liefdadigheidsorganisasies: ja, newwermaaind, dis ‘n ander storie.

    Liked by 2 people

        1. Ek probeer stuur vir hulle wat ek dink betroubaar is. Ek hou nie daarvan om vir elke 2e persoon ‘n paar rand in die hand te druk nie. Hier is een vrpu wat dit haar werk maak om geld in te samel. Elke maand is daar ‘n ander een vir wie sy geld vra. Dit maak my lam.

          Like

Gesels saam, asseblief!