‘n Behoorlike getrek

Ek het al ‘n hele paar keer in my lewe getrek. My eerste behoorlike trek was toe ek en my pa met ‘n paar meubeltjies en bokse al die pad aangedurf het na Bedford in die Oos-Kaap, waar ek sou gaan skoolhou. My pa. Ag, hoe mis ek hom nou! Ek het voor gery met my vuurhoutjieboksiekarretjie en my pa het agterná gekom met die bakkie. My neef het vir geselskap saam met my gery en my my oom saam met my pa. Dit was ‘n lange skof en iewers is ons deur ‘n woeste donderstorm. Laat in die dag daar aangekom en afgepak en my pa-hulle het weer die terugpad aangedurf. Hy het vertel dat hy die laaste paar kilometers elke keer wakker geword het wanneer hy die gruis vang, die bakkie het hopelik die pad geken! Genadiglik het hy veilig aangeland.

Ses maande later het my man met ‘n kleinerige lorrietjie, wat net groter is as ‘n bakkie, my trek op Bedford kom haal, om ons in De Rust te vestig. Drie jaar later was dit weer oppak, hierdie keer op ‘n lorrie, om op ‘n plaas in die Swellendamdistrik te gaan woon vir drie jaar, waarná ons weer getrek het na ‘n plaas in die Bredasdorpdistrik. Daar het ons vir nege jaar gebly, voor ons Uitkyk toe getrek het in 1999. Ons geliefde Uitkyk. Agtien wonderlike jare daar gebly. Toe dorp toe in ‘n tydelike huis, net om nou al weer aan die pak te wees.

Met elke trek het die goed meer geraak, behalwe toe ons dorp toe getrek het en behoorlik moes sif tussen ons goed. Elke keer het die trek groter geraak, die bokse meer, die uitpak langer. Elke keer het dit goed gegaan met die uitpak, tot daar so een of twee bokse oorgebly het wat net nie uitgepak kom nie. Die lewe gaan aan.

Intussen het ons tussen seeplekke getrek, beide ons ouers ‘n paar keer help trek, tussen pendelplase getrek en plekke leefbaar gemaak vir wanneer ons daar is. Ook na woonstelle getrek wat verhuur moes word. G’n wonder my arms kla omdat ek hulle misbruik het nie!

Trek is moeilik. Trek is opwindend. Trek beteken ‘n nuwe begin. Trek is harde werk. Trek is erg. Trek is lekker. Trek maak jou moeg, maar laat die adrenalien pomp. Trek kan slegte dinge voorspel, maar trek kan ook ‘n wonderlike voorreg wees.

Wie weet, sal dit nou my laaste trek wees? Sal dit die laaste keer wees wat ek my eie woning oppak? Sal my kinders dit in die toekoms vir my moet begin doen? Sal die Here dit vir ons seën om werklik baie gelukkige jare daar te kan beleef? Ek hoop so! 😊

Toortsie

🚚🚛🛴

23 thoughts on “‘n Behoorlike getrek

      1. Waar is die blikoopmaker? Het jy my knipmes gesien? Ek kry nie my nuwe muis nie. Haha – hoekom raak iéts altyd weg langs pad? En dan koop jy ‘n nuwe een. En twee weke later spoor jy die ou een ook op. Geniet dit gate uit maatjie!

        Liked by 1 person

  1. As kind het ons so rondgetrek, ek was in sewe laerskole. Toe trou ek met ‘n soldaat en trek ons meer kere as wat ons in jare getroud was. Na my man se afsterwe het ek een keer per jaar getrek, elke keer kleiner en goedkoper. Ek bly nou vir die eerste keer in my lewe al vir 14 jaar in dieselfde huis….en hoop my laaste trek is lang bome toe…trek is baie harde werk!

    Liked by 1 person

  2. Ek ken ook van trek, ons het agt keer getrek in ons eerste tien jaar van getroude lewe. Daarna nog ń paar keer, plus die kinders se verhuisings. Ek moet bely nou met die kids se trek verlede naweek, het ek besef ek is nie meer dertig nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak. Sterkte vir julle trek wat voorlê.

    Liked by 1 person

  3. Trek!
    Ek skud altyd my kop wanneer mens ‘n projek bestuuk klas begin… waar die boek of die instukteur mens gou laat weet dat ‘n getrekery wel as een van die stresvolste projekte op aarde beskou kan word! 😉
    Ja… ons het ook al baie getrek… ek dink nege keer hier in Ierland (omdat ons nooit kon bekostig om the koop nie…) so, ek ken jou pyn! 🙂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!