Gee dat dit seermaak?

‘n Vriendin sê nou die dag iets wat ek in die verlede ook al ‘n paar keer gehoor het dat dit in die Bybel staan dat ons moet gee dat dit seermaak. Ek het half ongemaklik daaroor gevoel.

Daarná het ek al baie daaroor gedink, staan dit regtig in die Bybel? Het ek dit misgelees? Of het ek dit dalk raakgelees, maar vergeet? Ek moes dit al raakgelees het as dit in die Bybel staan, maar my onthougoed werk nie meer aldag so lekker nie.

Al woorde wat oor en oor in my kop opkom, is dat die Here die blymoedige gewer liefhet, dat Hy juis wil hê dat ons ‘n offer van dankbaarheid tot eer van Hom moet gee, eerder as om afgepers te word. Ek lees dit toe weer raak in 2 Kor 9, en Paulus brei uit daaroor, dat, wie karig saai, karig sal oes, dat ons nie met teensin of uit dwang moet gee nie, maar met blydskap. Hy skryf ook dat God ons vrygewigheid ‘n ryk oes sal laat oplewer.

Op ‘n ander plek lees ek dat dit lekkerder is om te gee as om te ontvang, en dit is regtig so. As ‘n mens die vreugde sien wat jou geskenk vir ander bring, kry jy sommer net in lekkerte ‘n beloning terug.

Daar staan ook dat ons ‘n tiende van ons inkomste moet gee, en dít is dalk soms seer. Miskien is dit seer vir iemand wat moeilik gee, om wel te gee. Vir iemand met ‘n toe hand om dit oop te maak om te gee. Dán sal jy seer kry as jy dit wel doen, maar ek dink steeds die Bybel vra vir gee met vrymoedigheid, met blydskap.

En juis daaroor voel ek dat, wanneer ek nie vir ‘n persoon of organisasie wil gee nie, ek dit nié moet doen nie, want dan doen ek dit nie in blydskap nie. Daar is genoeg vir wie ek met blydskap kan gee. Dis maar net my persoonlike mening.

Mag jy ‘n wonderlike dag hê. Mag God ons oë en harte sag maak sodat ons die nood om ons sal raaksien en met blymoedigheid sal bydra om ander se nood te verlig.

Groetnis

Toortsie

13 thoughts on “Gee dat dit seermaak?

  1. Baiekeer bevraagteken ek die motief van gee. Hier praat ek met myself ook. Is dit werklik omdat mens wil, of is dit om jouself te laat goed voel?
    Ten spyte hiervan, is dit steeds edel om te help waar jy kan.Mooi geskryf, Toortsie.

    Liked by 1 person

  2. Om te gee is deesdae ‘n goeie bemarkingstrategie en sommer aftrekbaar vir belastingdoeleindes ook. Net jammer die gifte beland meeste van die tyd in die verkeerde sakke. Ja, ek het ook deur die jare ‘n weerstand opgebou teen gee en gee sonder voorbehoud, maar daaroor sal ek liewer nie uitwy nie.

    Liked by 1 person

  3. Sjoe, dit was ‘n skrywe wat my nogal diep laat dink het. Ek dink dat mens se gesindheid dalk die deurslaggewende rol speel wanneer dit by gee kom. Ek weet vir ‘n feit dat ek soms uit pure frustrasie gee, want ek kom op ‘n punt so elke paar maande waar die “clutter” rondom my te veel raak en dan smyt ek net alles in swartsakke en gaan laai dit af by die naaste plek wat donasies vat. So, alhoewel dit wat ek skenk ‘n groot verskil maak aan die ontvanger, doen dit niks aan my siel nie, want ek is meer verlig om ontslae te raak daarvan as iets anders! Vir my is ware géé, dalk daar waar die weduwee se kruik inkom. As daar nood is wat my hart raak, en ek seën daardie persoon met iets wat ek nog kan gebruik, bloot omdat daardie persoon dit meer nodig het as ek, dan doen ek dit met ‘n ander gesindheid. Want, alhoewel dit bietjie seermaak om iets weg te gee wat ek ook nodig het, is ek blymoedig daaroor, want is om op te offer nie tog maar waaroor dit alles gaan nie? Of dit geld is, besittings of selfs tyd is.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!