Hippocrates gesegte

Onder aan die bladsy van die boek waarin ek skryf, staan: ‘Make a habit of two things: to help, or at least to do no harm.’ (Hippocrates)

Ek het gemengde gevoelens oor hierdie een. O ja, ek stem heeltemal saam dat ‘n mens moet help, en probeer om nie skade te doen nie.

Die gevaar staan vir my daarin om, uit vrees vir skade doen, jy later heeltemal niks doen nie. Wag vir ander om op te tree en dat hulle maar die skade te doen. Jy sien daar is ‘n plek wat jy eintlik kan help, maar dit mag gebeur dat jy op tone kan trap in die proses, maar, dan bly jy eerder stil. Hoe nou gemaak?

Sjoe! Hoekom het ek hieroor begin skryf? Ek wil tog nie hê ‘n mens moet oral op tone trap nie. Ek wil beslis ook nie hê dat jy moet skade doen nie. Ek wil hê dat ons moet dink voor ons doen, veral ek, wat eers spring en dan dink.

Die probleem is, dis makliker dat wanneer ons doen, ons foute kan maak. As ons niks doen nie, maak ons nie foute nie. Of so dink ons. Ons bestaan net. Ons sit soos by ‘n tenniswedstryd en wees net ‘n toeskouer, draai die kop van links na regs om te kyk hoe die ander kraters van hulleself maak, tot ons ons nekwerwers later afdraai.

Genadiglik is daar doeners. Genadiglik is daar dinkers. Genadiglik is daar mense wat nie oral instorm en alles wil verander nie. Genadiglik is daar mense wat wél storm, selfs soms op tone trap, omdat die verandering wat kom, ‘n verbetering is. Maar verandering is nie altyd maklik nie.

Ek is jammer, ek het die probleem dat ek nie altyd net kan stilbly nie. Stilsit nie. Ek probeer my bes om nie tone raak te trap nie, maar soms is die tone net oral! Ek is nie goed met sit en wag in die hoop dat iemand anders iets sal uitsorteer nie. Dis glad nie dat ek in beheer wil wees nie, ek voel vere vir in beheer wees, dis eerder dat as iets nie reg is nie, ek dit wil regmaak, maar almal voel natuurlik nie dieselfde oor wat reg is nie. En ek is natuurlik nie altyd reg nie.

Genade! Help net! Moenie met handjies gevou sit nie! Dis wat ek met hierdie gegorrel probeer regkry om te sê.

Toortsie.

6 thoughts on “Hippocrates gesegte

  1. Dis mos makliker om terug te sit en niks te doen nie. Of om terug te sit en te kritiseer wat wel gedoen word. Of (en ek raak nogal buite weste kwaad oor hierdie een) die geykte kommentaar op facebook wanneer daar ‘n ramp plaasgevind het: “You are in our thoughts and prayers”. Dankie, ek waardeer dit, maar dit sal dalk net nog ‘n bietjie help as jy fisies inspring om iets te doen, al teken jy net aan op jou bankrekening en doen ‘n skenking vir die3 mense wat wel iets doen.

    Liked by 3 people

  2. Soms WIL iemand nie jou hulp en kennis hê nie, al het hulle dit nodig – veral n mens se kinders ly aan daardie kwaal. Dan is dit baie moeilik om handjies gevou te kyk hoe hulle foute maak en sukkel. Maar soms moet jy jouself maar dwing om terug te sit en niks te doen nie – ter wille van vrede.

    Liked by 1 person

    1. Seegogga, ja hul wil bie keer nie gehelp word nie en mens moet soms hard op jou tande byt.
      Ek voel ek kry eerder moeilikheid oor ek probeer help het, as die verwyt omdat ek kon help, maar ek het nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s